Posts Tagged "protron"

18May2023

Deel van die reekse Materie en Elektrisiteit.

Alle vastestowwe, vloeistowwe en gasse bestaan uit materie of miljoene klein deeltjies, hierdie deeltjies word atome genoem. Verskillende stowwe is saamgestel uit verskillende atome. Die periodieke tabel gee vir ons inligting oor elke soort stof en die atome waaruit dit bestaan.

Atome bestaan uit 3 dinge: elektrone, protone en neutrone.

Atoom struktuur ©Wikimedia Commons

Die Atoomstruktuur

In die middel van die atoom (ook genoem die kern van die atoom) is die protone en neutrone; die elektrone beweeg in sirkels om die kern. Ons kan die atoomstruktuur vergelyk met die son en die planete wat om die son draai. Die son stel die kern, met die proton en neutron, voor met die planete, wat die elektrone is, en om die son draai.

Koolstof atoom ©Wikimedia Commons

Lading en Geleiding

Elektrone kan van een atoom na ‘n ander beweeg afhangende van die vastestof/metaal waarvan dit deel is. Elektrone het ‘n negatiewe lading en balanseer die positiewe lading van die protone om die atoom ‘n neutrale lading te gee. Wanneer die elektron van een atoom na ‘n ander beweeg neem die elektron sy negatiewe lading saam en hierdie beweging is elektrisiteit.

Vastestowwe/metale wat toelaat dat die elektrone vrylik binne dit beweeg is elektriese geleiers, koper is die beste geleier. Die stowwe wat dit verhoed word ‘n nie-geleier genoem en kan gebruik word om elektrisiteitsvloei (die vloei van elektrisiteit) te beperk tot een geleier, bv. ‘n elektriese draad wat gebruik word om elektrisiteit na ‘n lig te bring en uit ‘n kopergeleier bestaan binne ‘n omhulsel wat uit ‘n nie-geleier bestaan.

©Wikimedia Commons

Woordelys:

Materie – klein deeltjies waarvan alles gemaak is.

Vastestof – ‘n materiaal wat nie self van vorm kan verander nie.

Vloeistof – ‘n materiaal wat kan vloei en neem die vorm van die houer waarin dit is aan.

Elektrone – ‘n stukkie van ‘n atoom wat ‘n negatiewe lading het.

Protone – ‘n stukkie van ‘n atoom wat ‘n positiewe lading het.

Neutrone – ‘n stukkie van ‘n atoom wat neutraal is en geen lading het nie.

Kern – die middel van iets. Die protone en neutrone saam maak die kern van ‘n atoom.

Vrylik – beweeg sonder om gekeer te word.

Verhoed – iets nie toelaat nie.

Elektriese geleier – elektriesiteit kan deur dit vloei.

Nie-geleier – ‘n stof wat nie elektrisiteit kan gelei nie.

Leer meer oor Atome:

Kyk hierdie video.

Lees hierdie artikel, of hierdie artikel.