Posts Tagged "afrikaans"

3Nov2023

Hoeveel weet jy van soogdiere? Kan jy al die vrae reg antwoord?

As jy klaar al die vrae geantwoord het, vind die antwoorde heel onder.

close up photo of brown deer
Photo by Ray Bilcliff on Pexels.com

1. Is soogdiere koudbloedig of warmbloedig?

a. Warmbloedig

b. Koudbloedig

c Albei

2. Waar of onwaar: Alle soogdiere gee geboorte aan lewendige kleintjies.

a. Waar

b. Onwaar

3. Soogdiere is…

a. Karnivore

b. Herbivore

c. Omnivore

d. Al die bogenoemde

4. In watter groepe val die volgende diere? Die blou aap, orangoetang, gorillas, sjimpansees.

a. Soogdiere

b. Ape

c. Primaat

d. Al die bogenoemdes

5. Alle soogdiere… (merk almal wat waar is)

a. Drink melk as babas

b. Gee lewendig geboorte

c. Eet vleis

d. Het hare

6. Waar of onwaar: Alle soogdiere het 4 pote.

a. Waar

b. Onwaar

7. Monotremata beteken:

a. Eenvormig

b. Gee net een keer geboorte

c. Soogdiere wat eiers lê

d. Een toon soogdiere

8. Hoe versorg soogdiere hulle kleintjies?

a. Die kleintjies drink melk en leer gewoontes by die ouers, totdat hulle op hulle eie kan oorleef.

b. Hulle lê slegs eiers en los dan die kleintjies om self groot te word.

c. Hulle bou neste en voed die kleintjies met kos wat hulle versamel het.

d. Net die pa versorg die kleintjies tot hulle self kan oorleef.

9. ‘n Buidel is:

a. ‘n seer poot

b. ‘n blaasinstrument

c. ‘n sakkie aan die ma se lyf waarin ‘n babadiertjie kan bly

d. ‘n hammer

10. Soogdiere wat in water bly bly warm deur…

a. baie vinnig te swem

b. ‘n dik laag vet

c. ‘n dik laag hare

d. baie te eet

Antwoorde

  1. a
  2. b
  3. d
  4. d
  5. a
  6. b
  7. c
  8. a
  9. c
  10. b

3Nov2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.

Ons leer in hierdie artikel van soogdiere.

Voorbeelde van Soogdiere

  • Mense
  • Honde
  • Katte
  • Bokke
  • Beeste
  • Muise
  • Vlêrmuise
  • Leeus
  • Jagluiperde
  • Eendbekdier
  • Miereters
  • Jakkalse
  • Kanagaroos
  • Walvisse
  • Dolfyne
  • Seeleeus/walrusse
  • Bere

Eienskappe/ kenmerke

  • Ruggrate/skelet – Alle soogdiere is gewerwelde diere. Dit beteken hulle het ‘n ruggraat en bene wat hulle lyf struktuur gee en hulle organe beskerm.
  • Warmbloedig – Alle soogdiere is warmbloedig. Dit beteken dat hulle liggaam temperatuur aan die binnekant altyd dieselfde bly ongeag hoe koud of warm dit buite hulle is.
  • Haal asem met longe – Net soos voëls en reptiele haal soogdiere ook asem met longe.
  • Hare/pels – Soogdiere se lywe is bedek met hare end it word ‘n pels genoem.
  • Pote – Soogdiere het 4 pote of 2 pote en 2 arms, behalwe walvisse en dolfyne, wie se pote vinne is.
  • Lewendig gebore – Soogdiere groei eers vir ‘n tyd lank in die wyfie of mamma se maag (in ‘n orgaan wat die baarmoeder genoem word) voordat hulle gebore word. In hierdie tyd ontwikkel hulle van ‘n klein selletjie tot ‘n baba diertjie met ‘n ruggraat, longe, pote, ore, neus, en oë. Party baba soogdiere se ogies is nog nie oop as hulle gebore word nie en meeste kry eers hare ‘n paar dae of weke na geboorte. Daar is net twee spesies soogdiere wat eiers lê (eendbekdier en mierystervark), maar die kleintjies soog (drink melk) nogsteeds, nadat hulle uitgebroei het, aan die moeder.
  • Melk – Alle soogdiere drink melk vir ‘n tyd lank nadat hulle gebore is. Die babatjies kan tussen 4 dae en 7 jaar aan die moeder soog en versorg word.

Waar kom hulle voor?

Soogdiere kom reg oor die hele aarde voor. Van die warmste woestyn tot die koue Antartika, op land en in die water.

Wat eet hulle?

Soogdiere kan karnivore, herbivore of omnivore wees. Karnivore is diere wat net vleis eet, byvoorbeeld leeus, jagluiperde en tiere. Herbivore is diere wat net plante eet, soos bokke, kameelperde, seekoeie en sebras. Omnivore is diere wat vleis en plante eet, soos bere, varke en bobbejane. Omdat soogdiere warmbloedig is en hulle liggaamstemperatuur beheer, moet hulle meer eet as koudbloedige diere soos reptiele en visse. Kleiner diertjies soos muise moet tot soveel as hulle liggaamsgewig per dag eet om warm te bly.

Verskillende soorte soogdiere

Soogdiere kan in verskillende groepe gedeel word volgens soortgelyke eienskappe wat die spesies deel.

Roofdiere is diere wat ander diere jag vir hulle kos.

Knaagdiere is diertjies wat hulle kos knaag soos muise, eekhorings en hase.

Buideldiere is diere wie se kleintjies vir ‘n tyd lank in ‘n buidel (‘n sakkie teen die maag) van die mamma dier bly totdat hulle groot genoeg is om uit te kom, soos kangaroos en koalas.

Ape of primate is soogdiere wat in bome leef, arms en bene het, en slimmer as die algemene soogdier is.

Monotremata is ‘n groep wat uit net 2 spesies bestaan: die eendbekdier en die mierystervark. Dit is die enigste soogdiere wat eiers lê.

Kan jy aan nog soogdiere dink wat eienskappe deel?

shallow focus photo of a joey
Photo by Ethan Brooke on Pexels.com

Pels

Soogdiere is die enigste diere wat hare het. Hare groei uit die vel uit en help soogdiere om warm te bly. ‘n Tweede doel vir hare is om diere te kamofleer in hulle habitat, sodat hulle nie so maklik gesien kan word nie. Kamoflering van roofdiere help hulle om ongesiens nader aan hulle prooi te beweeg, sodat hulle dit makliker kan vang. Terwyl kamoflering vir prooidiere help vir beskerming teen roofdiere. Zebra’s se streep patroon veroorsaak dikwels verwarring by roofdiere.

Soogdiere wat in die water bly het nie gewoonlik hare of ‘n pels nie, maar ‘n dik laag vet wat die hitte binne en die koue buite hou.

zebra fur
Photo by Pixabay on Pexels.com

Pote

Soogdiere het gewoonlik 4 bene waarop hulle loop of hardloop. Roofdiere het skerp naels wat kloue vorm sodat hulle hulle prooi kan vang en in bome kan klim. Perde het hoewe, terwyl bokke en beeste kloutjies het. Party diere soos die kangaroos, eekhorings, hase en sekere muise se agterbene is beter ontwikkel as hulle voorpote om mee te spring. Sommige diere soos ape en luidiere se pote is meer soos hande om dinge mee te kan vat of om aan takke vas te klou.

close up of elephants feet
Photo by Kallie Calitz on Pexels.com

Interessante feite

  • Die kleinste soogdier is die hommelbyvlêrmuis of die wittanddwergmuis wat tussen 1,2 en 2 gram weeg en kleiner as 5cm lank is.
  • Die grootste soogdier is die blouwalvis wat tussen 23m en 30,5 m lank kan word en tot 136 ton weeg.
  • Die grootste land soogdier is die olifant met ‘n hoogte van 3,6m en gewig van 5,5ton.
  • Die langste land soogdier is die kameelperd wat tot 5,7 meter lank kan word.
  • Vlêrmuise is die enigste soogdiere wat werklik kan vlieg.
  • Mense is ook soogdiere.
  • Die orangoetang soog sy kleintjie tot sewe jaar lank.
  • Meeste soogdiere het tande, maar miereters het nie tande nie.

Kan jy hierdie vrae antwoord?

of probeer hierdie een in Engels.

Videos:

Leer meer:

DKfindout

Ducksters


30Oct2023

Hoeveel weet jy van reptiele? Kan jy al die vrae reg antwoord?

As jy klaar al die vrae geantwoord het, vind die antwoorde heel onder.

amphibian animal close up color
Photo by Pixabay on Pexels.com

1. Waaruit word reptiele se skubbe gemaak?

a. Vere

b. Keratin

c. Been

d. Marmer

2. Hoeveel verskillende spesies reptiele is daar?

a. Minder as 1000

b. Minder as 500

c. Meer as 8200

d. Meer as 6400

3. Watter een van die volgende is nie ‘n reptiel nie?

a. Padda

b. Likkewaan

c. Huisslang

d. Krokodil

4. Waar kom reptiele nie voor nie?

a. Amerika

b. Asië

c. Europa

d. Antartika

5. Watter reptiel kan ouer as 120 jaar oud word?

a. Nylkrokodil

b. Bloukopakkedis

c. Groot skilpad spesies

d. Al die bogenoemde

6. Hoe ruik slange?

a. Met hulle neus

b. Met ‘n spesiale orgaan in die binnekant van die mond

c. Met hulle tong

d. Met hulle vel

7. Hoe plant reptiele voor (hoe word hulle meer)?

a. Hulle lê eiers in die grond

b. Hulle bou neste met stokkies en blare

c. Hulle gee lewendig geboorte

d. Al die bogenoemde

8. Hoekom vervel sekere reptiele? (kies almal wat waar is)

a. Reptiele se vel kan nie rek nie

b. As hulle bang is gooi hulle hulle vel af as ‘n verdedigingsmeganisme

c. Om hulle gesond te hou

d. As die vel se skubbe af geval het

9. Waar of onwaar: Reptiele is uitstekende ouers en versorg hulle kleintjies vir lank nadat hulle uitgebroei het.

a. Waar

b. Onwaar

10. Waar of onwaar: Die kleinste reptiel is ‘n verkleurmannetjie wat kleiner as 2cm is wanneer hy volgroeid is.

a. Waar

b. Onwaar

Antwoorde

  1. b
  2. c
  3. a
  4. d
  5. c
  6. b
  7. a
  8. a, c
  9. b
  10. a

19Oct2023

Hoeveel weet jy van voëls? Kan jy al die vrae reg antwoord?

As jy klaar al die vrae geantwoord het, vind die antwoorde heel onder.

portrait photo of brown and gray bird
Photo by Jean van der Meulen on Pexels.com

1. Is voëls koudbloedig of warmbloedig?

a. Warmbloedig

b. Koudbloedig

c.  Albei

2. Waar of onwaar: Alle voëls migreer in die winter na warmer plekke.

a. Waar

b. Onwaar

3. Watter tiepe vere het voëls? (merk almal wat reg is)

a. Penvere

b. Donsvere

c. Dekvere

d. Maagvere

4. Wat is die kleinste voëltjie se naam?

a. Gewone huis mossie

b. Bykolibrie

c. Glasogie

d. Europese swael

5. Waar maak voëls neste?

a. Bome

b. Kranse

c. Riete

d. Al die bogenoemde

6. Watter een pas nie?

a. Pikkewyn

b. Swaan

c. Volstruis

d. Kiwi

7. Waar of onwaar: Voëls is die enigste diere met vere.

a. Waar

b. Onwaar

8. Hoe versorg voëls hulle kleintjies? (merk almal wat reg is)

a. Hulle lê slegs die eiers en verlaat dan die eiers en kleintjies om self groot te word.

b. Hulle bou ‘n nes en hou die baba voëltjies warm.

c. Hulle broei die eiers uit deur daarop te sit vir weke.

d. Hulle gaan haal kos en voer die kleintjies tot hulle groot genoeg is om te vlieg.

9. Watter dele van voëls is aangepas vir sy habitat, gewoontes en dieet?

a. Bek

b. Vlerke

c. Pote

d. Al die bogenoemde

10. Waaruit is ‘n voël se snawel gemaak?

a. Been

b. Hout

c. Keratin

d. Marmer

Antwoorde

  1. a
  2. b
  3. a, b, c,
  4. b
  5. d
  6. b (die swaan kan vlieg)
  7. a
  8. b, c, d
  9. d
  10. c

19Oct2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.

Ons leer in hierdie artikel van voëls.

Voorbeelde van Voëls

  • Pou
  • Volstruis
  • Papagaai
  • Emo
  • Pikkewyn
  • Suikerbekkie
  • Valke
  • Arend
  • Duif
  • Vinke
  • Mossie

Eienskappe/ kenmerke

  • Ruggrate/skelet – Alle voëls is gewerwelde diere. Dit beteken hulle het ‘n ruggraat en bene wat hulle lyf struktuur gee en hulle organe beskerm.
  • Warmbloedig – Alle voëls is warmbloedig. Dit beteken dat hulle liggaam temperatuur aan die binnekant altyd dieselfde bly ongeag hoe koud of warm dit buite hulle is.
  • Haal asem met longe – Net soos soogdiere en reptiele haal voëls ook asem met longe.
  • Snawels – Voëls het nie tande nie, maar snawels.
  • Vere – Voëls se lywe is bedek met vere. Hulle is die enigste diere wat vere het.
  • Vlerke – Voëls het 2 vlerke en 2 pote, anders as meeste diere wat 4 pote het.
  • Pote – Voëls het 2 pote met 3 tot 5 tone wat aangepas is vir hulle spesifieke doeleindes en habitat.
  • Eiers en neste – Voëls vermeerder deur eiers te lê en uit te broei in neste wat hulle gebou het.

Waar kom hulle voor?

Voëls kom reg oor die hele aarde voor. Van die warmste woestyn tot die koue Antartika.

a world map made of grains and beans
Photo by Monstera Production on Pexels.com

Wat eet hulle?

Voëls kan karnivore, herbivore of omnivore wees. Meeste voëls se snawels, pote en vlerke is aangepas by dit wat hulle eet. Roofvoëls, soos arende en uile, kan hoog vlieg en het goeie sig om klein diertjies, visse of slange makliker raak te sien. Seevoëls, soos meeue en albatrosse, se vlerke en snawels is ook aangepas om vinnig en lank oor die see te sweef en vis te vang. Mossies en ander saad eters het weer kort, krom snawels om saadjies uit hulle doppies te haal. Voëls eet sade, of vrugte, of nektar, of insekte, of slange, of muise, en nog ‘n klomp ander soorte kos.

Snawels

Snawels is die harde bekke van voëls; die buitekant is gemaak uit keratin (die selfde as naels, hare en vere). Voëls het nie tande nie en hulle snawels lyk verskillend afhangend van wat hulle eet. Papagaaie het skerp, krom bekke om neute en sade te kraak, terwyl suikerbekkies lang snawels het om die nektar in die blomme by te kom; arende en roofvoëls het sterk, skerp en krom snawels sodat hulle vleis kan skeur en van bene kan aftrek, terwyl ‘n lepelaar ‘n lang, plat snawel het wat lyk soos ‘n lepel waarmee hy deur die water sif vir sy kos.

black and white vulture
Photo by Harry Lette on Pexels.com

Verskillende soorte voëls

Wetenskaplikes beweer dat daar tussen 9000 en 11000 soorte voëls in die wêreld is. Alhoewel almal van hulle dieselfde eieskappe het wat hulle voëls maak, is daar ook baie verskille tussen die verskillende spesies. ‘n Arend is nie dieselfde as ‘n suikerbekkie nie en ‘n hoender is nie dieselfde as ‘n mossie nie, maar tog bly hulle almal voëls.

Meeste voëls kan vlieg, maar ons kry ‘n groepie voëls wat nie kan vlieg nie, byvoorbeeld volstruise, die kiwi en die emu. Daar is ook voëls wat nie goed of hoog kan vlieg nie soos hoenders, en tarentale, omdat hulle lywe te swaar is.

Ons kan voëls groepeer volgens wat hulle eet of hulle gewoontes. Roofvoëls is almal voëls wat jag vir hulle kos, groot kloue vir pote het en slegs vleis eet, soos uile, arende, aasvoëls en valke. Reiers is ‘n groep voëls wat lang snawels, bene en nekke het, en baie grasieus beweeg. Pluimvoëls is voëls wat aangehou kan word om mee te boer, soos hoenders, ganse, swane, poue, en kalkoene. En watervoëls is voëls wat gewoonlik by water bly of gevind kan word.

Trekvoëls migreer in die herfs na warmer plekke en kom weer terug in die lente, gewoonlik tussen die noordelike en die suidelike halfrond. Hierdie verskynsel word migrasie genoem en omtrent 20% van voëls doen dit. ‘n Voorbeeld hiervan is die Europese swaeltjie wat tussen Suid-Afrika en Europa trek. Ganse, eende en swane is ook trekvoëls.

Kan jy dink aan nog groepe voëls?

flock of birds flying over cloudy sky
Photo by Rajukhan Pathan on Pexels.com

Vere

Vere help voëls om warm te bly, om te vlieg en om mooi te lyk. Daar is verskillende vorms van vere, elk met hulle eie werk.

  • Donsvere kom gewoonlik by baba voëltjies voor, of teen die lyf van volwasse voëls om hulle warm te hou.
  • Dekvere is die gewone vere wat die lyf bedek en die voël mooi laat lyk.
  • Penvere is sterker vere wat op die vlerke en stert voorkom en ‘n voël help om te vlieg.

Vere kan ‘n waterdigte laag vorm, dit laat voëls makliker dryf op die water en help watervoëls om droog te bly onder water of om vinniger droog te word. Laaste gebruik mannetjie voëls soos die pou ook sy vere om die wyfie se aandag te trek. In die diereryk is dit die mannetjies wat hulleself mooi maak en die wyfies is gewoonlik valer van gestalte.

close up of white feather
Photo by NSU MON on Pexels.com

Vlerke

Voëls gebruik vlerke hoofsaaklik vir vlieg, maar ook vir ander dinge soos om hulle self te beskerm teen gevaar. Het jy al ooit gesien dat ‘n voël sy vlerke groot oopmaak en skree sonder om te vlieg? Hy probeer om homself so groot as moontlik te laat lyk, sodat sy aanvaller sal weg beweeg.

Voëls se vlerk vorm is spesifiek ontwerp sodat hulle in die lug kan bly wanneer hulle vlieg. Die vorm van die vlerk druk die lug af en die voël op, net soos ‘n vliegtuig se vlerke. Elke spesie se vlerkvorms is aangepas by die manier waarop die voël vlieg. Die albatross het lang vlerke wat hom help om vir lang tye te sweef oor die see, en so min as moontlik energie te gebruik terwyl hy/sy in die lug is. Terwyl die suikerbekkie se vlerke weer so gevorm is dat hulle maklik op een plek kan bly, deur die vlerke baie vining te beweeg. Hulle kan selfs agtertoe beweeg.

Hoe ligter die voël is hoe makliker kan hy vlieg, daarom is voëls se grootste bene hol aan die binnekant. Die spiere van die bors af na die vlerke toe, is baie sterk om die vlerke te ondersteun wanneer die voël vlieg.

Pote

Meeste voëls het 2 tot 4 tone aan elke poot wat vorentoe wys en een wat agter toe wys. Die bene is bedek met vere aan die bokant en ‘n skubberige vel aan die onderkant.

Papagaaie en houtkappers het twee tone wat voorentoe wys en twee wat agtertoe wys sodat hulle gemakliker in bome kan rond klouter. Reiers en flaminke het lang bene en tone, sodat hulle in water kan loop en kos soek sonder om in die modder weg te sak. Eende het kort bene met webbe tussen hulle tone, sodat hulle makliker kan swem. Arende en roofvoëls het skerp naels en sterk tone wat kloue vorm sodat hulle hulle prooi kan vang.

Eiers en neste

Anders as reptiele het voëleiers harde doppe en die ouer broei die eiers uit en versorg die kleintjies totdat hulle volwasse genoeg is om op hulle eie te lewe. Party voëls is meesters as dit by nesbou kom. Dink maar aan ‘n vink se nessie wat slegs aan ‘n takkie hang. Verskillende voëls gebruik verskillende materiaal vir hulle neste: gras, stokkies, spoeg, vere, modder, mos en selfs spinnekopwebbe vir sekere suikerbekkies. Het jy al probeer om ‘n nessie te weef? Dit is baie moeiliker as wat voëltjies dit laat lyk.

tilt shift photo of two white bird eggs on a nest
Photo by Mauriciooliveira109 on Pexels.com

Interessante feite

  • Die kleinste soort voël is ‘n bykolibrie en word net ongeveer 5,5cm lank.
  • Die grootste voël is die volstruis wat ongeveer 2,5 meter lank word.
  • Die voël met die langste vlerkspan is die grootmalmok met ‘n vlerkspan van ongeveer 3 meter.
  • Suikerbekkies is die enigste voëls wat agteruit kan vlieg.
  • Die studie van voëls word ornitologie genoem en ‘n ornitoloog is ‘n voëlkenner.
  • Voëls het hol bene om hulle ligter te maak sodat hulle makliker kan vlieg.
  • Party voëlspesies is slim genoeg om gereedskap te maak en te gebruik, bv. kraaie.
  • Sekere duiwe kan boodskappe van een punt na ‘n ander neem en is al in oorloë gebruik om boodskappe te stuur.
  • Sekere albatrosse kan vir maande aan een oor die see vlieg, en hulle slaap terwyl hulle vlieg.
  • Die koekoek voël bou nie sy eie nes nie, maar lê haar eiers in ‘n ander voël se nes en laat daardie voël die kleintjies grootmaak.

Kan jy hierdie vrae antwoord?

of probeer hierdie een in Engels.

Videos:

Kyk na hierdie lys van videos om oor verskillende voëls te leer:

Bronne en leer meer:

DK findout

Ducksters

Wikipedia

Science Kids


11Oct2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Ongewerwelde diere kan onderskei word in 35 groepe/stamme. ‘n Paar van die groepe is: insekte, arachnidas, skaaldiere, weekdiere, en veelpotiges.

Ons leer in hierdie artikel van insekte.

Voorbeelde van Insekte

Miere

Bye

Vlieë

Perdebye/wespes

Bidsprinkaan

Sprinkaan

Krieke

Besies

Muskiete

Vlinders

Motte

Naaldekokers

Vlooie

Eienskappe/ kenmerke

  • Ongewerweld – insekte het nie ‘n geraamte soos gewerwelde diere en mense nie, hulle ‘geraamte’ is buite om hulle lyf, soos ‘n dop, om hulle te beskerm en word ‘n eksoskelet genoem. Omdat hulle nie ‘n werwelkolom het nie, word hulle ongewerweldes genoem.
  • Geleedpotig – Alle insekte is geleedpotig dit beteken hulle pote is in deeltjies gedeel wat dit makliker maak om te beweeg. Ander groepe wat ook geleedpotig is, is arachnidas, en skaaldiere (krappe en krewe).
  • Elke insek se lyf bestaan uit drie dele: die kop bevat die mond, oë en voelers; die bolyf huisves die 6 pote en vlerke; en die agterlyf.
  • Elke insek het 6 pote.  
  • Voelers – Insekte gebruik voelers om hulle omgewing te verken. Miere kan nie goed sien nie, maar hulle verken hulle omgewing baie goed deur alles met hulle voelers te bevoel en kan ook met hulle voelers ruik.
  • Insekte het meer as twee oë. Die twee groot oë wat mens maklik kan sien is saamgestelde oë en bestaan uit duisende klein lense wat die insek help om beweging makliker te kan sien. Verder het hulle ook klein eenvoudige ogies in die middel van hulle kop wat oselli genoem word.
  • Party het vlerke en kan vlieg. Die insekte wat vlerke het, het gewoonlik 2 pare vlerke, party keer is een stel van die vlerke vervom, byvoorbeeld by besies is die boonste vlerke harde doppies wat die sagter vlieg vlerke beskerm.
  • Insekte broei uit eiers uit en die kleintjie lyk nie gewoonlik soos die volwasse insek nie. Vlinders en motte broei uit as wurmpies, naaldekokers en musiekte broei uit as larwes wat in die water bly. Meest insekte lê honderde eiers op ‘n slag.
  • Alle insekte ondergaan metamorfose of stadiums van verandering. Dit beteken ‘n verandering van hoe hulle eers gelyk het tot die volwasse insek. Byvoorbeeld ‘n vlinder begin as ‘n wurm, spin hulle self toe met sy in ‘n papie en kom uit na ‘n paar dae of weke  as ‘n volwasse vlinder. Die stadiums waar deur die verskillende insekte gaan is verskillend van spesie tot spesie.

Waar kom hulle voor?

Insekte kom voor oor die hele wêreld, van droë woestynagtige areas tot klam reënwoude. Amper al die insekte bly op die land, alhoewel van hulle water benodig om hulle lewenssiklus te voltooi. Meeste insekte bly in tropiese klimaat areas.

Wat eet hulle?

Insekte het ‘n wye verskeidenheid van voedsel. Party eet plante, soos blomme en blare of plantsappe, terwyl ander karnivore is en ander nsekte eet. Insekte soos miere en vlieë eet selfs mense se kos.

Interessante feite

  • Entomologie beteken die studie van insekte en ‘n entomoloog is iemand wat insekte bestudeer.
  • Daar is baie meer insekte as mense in die wêreld. As mens dit moet skat kan elke mens 2000 of meer insekte hê.
  • Hulle kan so klein wees dat mens hulle nie kan sien nie tot so groot soos ‘n bord.
  • Insekte gebruik hulle voelers om die wêreld om hulle te voel en te beruik.
  • Meeste insekte lewe nie baie lank nie, die werker bye word net ‘n paar weke oud, terwyl die koningin by ‘n paar jaar oud kan word.
  • Insekte het baie eenvoudige breine en kan nie moeilike raaisels uit redeneer nie.
  • Insekte kan verder in verskillende groepe gedeel word volgens soortgelyke eienskappe, byvoorbeeld: miere, bye en wespes is saam in ‘n groep, besies en kewers is saam in ‘n groep en motte en vlinders vorm saam ‘n groep. Die grootste groep van insekte is die besies (beetles).

Videos:

Leer meer oor insekte:

Leer meer:

https://kids.kiddle.co/Insect

https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/insects/

https://www.ducksters.com/animals/bugs.php

https://af.wikipedia.org/wiki/Insek

Kan jy die vrae antwoord?

Ons vasvrae in Afrikaans of probeer hierdie in Engels.


10Oct2023

Hoeveel weet jy van insekte? Kan jy al die vrae reg antwoord?

As jy klaar al die vrae geantwoord het, vind die antwoorde heel onder.

1. Hoeveel pote het insekte?

a. 2

b. 4

c. 6

d. 8

2. Hoe lyk insekte anders as jy? (merk almal wat van pas is)

a. Insekte het het nie hare nie.

b. Insekte het ‘n harde dop vir ‘n lyf.

c. Insekte het nie hande en voete nie.

d. Insekte het nie tone nie.

3. Hoekom werk ‘n insek se oë anders as ‘n mens s’n? (merk almal wat van pas is)

a. Insekte se oë het honderde lense om beter beweging raak te sien.

b. Insekte se oë werk dieselfde as mense s’n.

c. Insekte het klein eenvoudige ogies in die middel van hulle kop wat help om tussen lig en donker te onderskei.

d. Insekte se oë sien die ultra violet liggolwe, sodat hulle die blomme beter kan sien.

4. Wat word insekte se 2 groot oë genoem?

a. spat oë

b. oselli

c. gewerweld

d. saamgestelde oë

5. Wat word ‘n insek se klein ogies genoem?

a. oselli

b. ligsensitief

c. gewerweld

d. sensors

6. Uit hoeveel hoof liggaamsdele bestaan ‘n insek se lyf?

a. 10

b. 3

c. 2

d. 6

7. Wat word die tentakels bo-op ‘n insek se kop genoem?

a. stokkies

b. vingers

c. tassensors

d. voelers

8. Watter een pas nie?

a. agterlyf

b. kop

c. bene

d. bo-lyf

9. Watter een pas nie?

a. mier

b. spinnekop

c. by

d. bidsprinkaan

10. Wat word dit genoem wanneer ‘n insek van een stadium verander na die laaste stadium?

a. nimf

b. metamorfose

c. metadata

d. papie

Antwoorde

  1. c
  2. a, b, c, d
  3. a, c, d
  4. d
  5. a
  6. b
  7. d
  8. c
  9. b
  10. b

14Sep2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.

Ons leer in hierdie artikel van visse.

Voorbeelde van Visse

  • Haai
  • Blaasoppie
  • Salm
  • Paling
  • Tuna
  • Sardiens
  • Anchovie

Eienskappe/ kenmerke

  • Ruggraat/skelet – Alle visse is gewerwelde diere, dit beteken hulle het ‘n ruggraat en bene wat hulle lyf struktuur gee en hulle organe beskerm.
  • Koudbloedig – Visse is koudbloedig. Dit beteken die vis se lyf is dieselfde temperatuur as die water rondom hom.
  • Skubbe – Visse het skubbe, dit is harde plaatjies, amper soos jou naels, wat die vel bedek. Hierdie skubbe help hulle om gemakliker in die water te beweeg en dit beskerm hulle teen aanvalle.
  • Kieeue – Visse haal nie soos mense asem nie en kan nie bo die water oorleef nie. Hulle het nie longe nie, maar is aangepas met kieeue om asem te kan haal binne die water. Hulle laat water deur hulle monde spoel, oor die spesiale orgaan, wat lyk of dit fyn haartjies het en dan gaan die water weer uit by die gaping net agter die kop. Kieeue haal die suurstof uit die water en laat dit in die bloed van die vis gaan, terwyl dit ook die koolsuurgas weer uit die vis se bloed in die water in laat gaan.
  • Vinne – omdat visse in die water beweeg en nie op land nie, het hulle vinne en nie bene nie. Die vinne help hulle om gemaklik in die water te beweeg. Die stertvin is plat en groot en kan vining die vis voorentoe stoot, terwyl die kant vinne die vis help om te stuur. Die boonste en onderste vinne help om die vis regop te hou.

Waar kom hulle voor?

Visse kom voor op alle kontinente en in alle oseane, byvoorbeeld in damme, riviere, mere, poele en die see. Visse in oseane word soutwatervisse genoem en visse wat in damme, riviere en mere voorkom word varswatervisse genoem. Met die uitsondering van ‘n paar spesies, soos die salms van Alaska, kan meeste soutwatervisse nie oorleef in varswater nie en varswatervisse kan nie oorleef in soutwater nie. Sommige visse kan glad nie uit hulle natuurlike habitat oorleef nie. Sekere elemente soos die water se hitte, suurstofdigtheid en die soorte kos wat hulle eet, speel ‘n groot rol in die habitat waar visse hulle vestig.

Wat eet hulle?

Visse kan herbivore of karnivore wees. Elke spesie verskil van die volgende. Sommige spesies eet net plant materiaal soos waterplante, terwyl ander, soos haaie en piranhas, weer net ander visse en soogdiere eet. Meeste visse wat gehengel kan word, eet klein goggatjies wat in en bo-op water gaan sit. Party visse se dieet laat hulle skoonmaak terwyl hulle die parasiete en ander indringers eet wat op die rotse of ander visse groei.

Interessante feite

  • Visse se breine is klein in vergelyking met hulle liggaamsgrote.
  • Meeste visse het nie neuse nie, of hulle neuse is onder-ontwikkkel, maar haaie het neusgate en kan na bewering bloed van baie ver af ruik.
  • Visse se ore is nie soos mense s’n buite hulle lyf nie, maar is binnekant.
  • Hulle is vaartbelynd, sodat hulle makliker deur die water kan gly.
  • Nie alle diere in die see is visse nie. Walvisse en dolfyne is soogdiere en warmbloedig. ‘n Seekat en ‘n jellievis het nie ‘n ruggraat nie en behoort dus ook nie tot die visgroep nie.
  • Visse en voëls is op die 5de dag van die skepping gemaak en was die eerste lewende wesens op die aarde.
  • ‘n Klomp visse bymekaar word ‘n skool visse genoem.
  • Seeperdjies is ook visse al lyk hulle nie so nie.

Kan jy hierdie vrae antwoord?

https://a-z-animals.com/quiz/fish-quiz/

Videos:

Leer oor visse:

Leer van die blaas-oppie-vis:

Leer meer van visse:

https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/fish/

https://www.ducksters.com/animals/fish.php


7Sep2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.

Ons leer in hierdie artikel van amfibieë.

Voorbeelde van Amfibieë

Paddas – Paddas word opgedeel in 2 groepe: paddas wat meestal op droër grond bly (toads) en paddas wat nader aan of in water bly (frogs). Die eerste groep se vel voel growwer, terwyl die tweede groep se velle glad en glibberig is.

Salmanders – Salmanders is klein slymerige diertjies met 4 pote. Hulle lyk amper soos vet akkedisse.

Wurmsalmander – ‘n Wurmsalmander is ‘n soort diertjie wat lyk soos ‘n wurm, ‘n slang en ‘n paling. Hulle bly meestal in die grond of in die water en mens sien hulle nie gereeld nie. Baie min is bekend oor hierdie groep.

Eienskappe/ kenmerke

Alle amfibieë is gewerwelde diere en het ‘n ruggraat.

Hulle is koudbloedig – dit beteken hulle lyf is dieselfde temepratuur as die water of lug om hulle. Hulle kan nie hulle liggaamstemperatuur beheer, soos soogdiere, nie.

Hulle lê eiers. Spesies soos paddas lê groot hoeveelhede eiers in skuim om te verseker dat groter hoeveelhede kleintjies volwassenheid bereik. Die eiers is baie keer deurskynend.

Nadat amfibieë uitgebroei het, moet hulle in water leef en metamorfose ondergaan om volwasse te word. Paddas se kleintjies noem ons paddavissies omdat die paddavissie net soos ‘n vissie lyk met ‘n kop en lang stervin. Kort voorlank ontwikkel die twee agterpootjies eerste en daarna die voorpootjies. Mettertyd word die stertjie kleiner, totdat dit heeltemal weg is en die padda volwasse is.

Amfibieë se kleintjies gebruik kieue om asem te haal, maar ontwikkel longe soos wat hulle ouer word. Die volwasse diere het longe, en haal asem deur hulle neus, mond en vel.

Hulle vel is nat, sodat hulle makliker kan asemhaal en beweeg. Hierdie eienskap, om deur hulle vel asem te kan haal, laat somige spesies toe om onder die water te bly vir die hele winter.

Gewebde tone – om te help met swem en deur die water beweeg, is meeste ambiese spesies se tone geweb. Dit beteken daar is ‘n dun vliesie tussen die tone.

Wat beteken die woord

Die woord amfibieë kom van Grieks af en beteken ‘twee lewens’. Dit verwys na die feit dat hulle in die water en op land kan lewe.

Waar kom hulle voor?

Amfibieë bly in en naby water. In velde, vleilande, woude en reënwoude. Hulle hou meestal van warmer en tropiese klimate, en kom op al die kontinente, behalwe Antartika, voor.

Wat eet hulle?

Volwasse amfibieë is meestal karnivore en eet lewendige insekte en enige diertjies wat kleiner as hulle is, alhoewel hulle plantmateriaal eet terwyl hulle in hulle onvolwasse stadium is. Hulle sluk hulle prooi heel in, en kan net vang en eet wat deur hulle monde en in hulle maggies kan pas, daarom is hulle monde groot en plat. Die groot brulpaddas sal selfs muise eet as hulle dit kan vang.

Interessante feite

  • Party spesies het spesiale kussingtjies onder hulle tone wat hulle laat vasklou aan glibberige oppervlaktes soos gladde klippe.
  • Hulle kan nie in soutwater leef nie, maar soek altyd varswater bronne.
  • Hulle hoef nie water te drink nie en neem water deur hulle velle op.
  • Die grootste amfibiese spesie is die Sjinese Salmander wat tot 1,8m lank word.
  • Die kleinste amfibiese spesie is die New Guinea padda wat net 7,7mm groot word.
  • Amfibieë se getalle neem af en moet beskerm word.

Videos:

Bronne:

https://simple.wikipedia.org/wiki/Amphibian

https://www.ducksters.com/animals/amphibians.php

https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/amphibians/


31Aug2023

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibië.

Ons leer in hierdie artikel van reptiele.

Voorbeelde van reptiele

  • Krokodille
  • Verkleurmannetjies
  • Slange
  • Skilpaaie
  • Akkedisse
  • Geitjies
  • Likkewane

Eienskappe

Alle reptiele het ‘n ruggraat en is deel van die gewerwelde diere, net soos soogdiere, voëls, visse en amfibië.

Alle reptiele is koudbloedig – dit beteken hulle kannie hulleself warm hou soos ons mense nie, maar hulle lywe is dieselfde temperatuur as die lug buite. Om warm te word moet hulle iets van buite af gebruik, soos byvoorbeeld die son. Dit is hoekom ons gereeld akkedisse in die son sien bak. Ander groepe wat ook koudbloedig is, is visse en amfibië.

Alle reptiele het longe – hulle haal asem met longe soos voëls en soogdiere.

Party reptiele se velle het skubbe – Reptiele se velle is droog en leeragtig, party het skubbe, wat uit keratien bestaan, dit is dieselfde materiaal as waaruit mense se naels gemaak is. Die skubbe is soos plaatjies wat styf teen mekaar lê. Baie reptiele soos akkedisse en slange moet gereeld vervel om hulle vel groot genoeg en gesond te hou. Skilpaaie se harde dop is ook ‘n vorm van skubbe.

Reptiele lê eiers – reptiele se eiers is nie soos voëleiers nie, dit is sagter en rubberig. Die eiers word gewoonlik in ‘n gat in die grond of ‘n ander beskutte plek gelê. Wanneer die kleintjie uitbroei lyk dit net soos die volwasse dier, maar is net kleiner. Anders as soogdiere het die kleintjies van reptiele nie die volwasse dier nodig vir oorlewing nie, maar kan hulle hulleself versorg.

Hulle het nie ore wat buite hulle lyf is nie, maar het interne ore met ‘n vlies bo-oor om die oor te beskerm. Meeste reptiele se reuk en sig sintuie is baie goed ontwikkel.

Wat beteken die woord?

Die woord reptiel kom van Latyns af en beteken om te kruip. Daarom beweeg alle reptiele naby aan die grond.

Waar kom reptiele voor?

Reptiele kom op elke kontinent voor behalwe op Antartika, waar dit te koud is vir hulle.

Kos

Reptiele is karnivore of herbivore. Alle akkedis tiepe reptiele (soos akkedisse, slange en krokodille) eet vleis en goggas, terwyl skilpaaie plante en vrugte eet.

Interessante feite:

  • Daar is meer as 8200 reptiel spesies.
  • Party reptiele soos slange en sommige akkedisse, het nie ooglede nie en kan nie hulle oë toemaak nie. Instede van ‘n ooglid het hulle ‘n deurskynende vlies wat die oog beskerm.
  • Omdat reptiele koudbloedig is, het hulle nie so baie energie nodig nie en eet baie minder gereeld as soogdiere. Sommige spesies kan maande lank wag vir hulle volgende maaltyd.
  • Sekere slangspesies se kleintjies word lewendig gebore en broei nie in ‘n nes uit nie.
  • Party wetenskaplikes beweer dat dinosorusse dalk reptiele was.
  • Meeste reptiele hiberneer, of hiberneer gedeeltelik, in die kouer maande.
  • Reptiele kan gemiddeld langer leef as ander spesies. Daar is groot skilpaaie wat ouer as 150 jaar kan word.
  • Slange en akkedisse gebruik hulle tonge om te ruik. Hulle tel die reukdeeltjies (scentparticle) op uit die lug met hulle tonge en dra dit oor aan ‘n ander orgaan wat binne-in hulle mond is.
  • Reptiele kan nie sweet nie en dus is hulle vel nie slymerig nie. Hulle velle is droog en glad, en hulle vervel gereeld.
  • Die grootste reptiel is die soutwater krokodil wat tot 7 meter lank kan word.
  • Die kleinste reptiel is die Brookesia nana, ‘n piep klein verkleurmannetjie wat net 13.5mm lank word.

Kan jy hierdie vrae antwoord?

of probeer hierdie een in Engels.

Woordeskat

Wetenskaplike – iemand wat navorsing doen oor ‘n sekere onderwerp.

Eienskap – iets waaraan ons ‘n dier of ding kan uitken.  

Gewerweld – het ‘n ruggraat.

Temperatuur – hoe warm of koud iets is.

Koudbloedig – ‘n eienskap waar die dier nie sy inwendige temepratuur kan beheer nie.

Skubbe – harde plaatjies op die vel van reptiele en visse

Leeragtig – dit voel of lyk soos leer

Keratien – ‘n harde stof waarvan naels, hare en skubbe gemaak is

Oorlewing – om aan te hou lewe

Spesie – ‘n groep diere wat dieselfde eienskappe het

Hiberneer – om deur die winter te slaap

Videos:

Reptiele

Die kleinste reptiel

Bronne:

https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/reptiles/

https://www.ducksters.com/animals/reptiles.php

https://www.dictionary.com/e/amphibians-vs-reptiles/

https://differentbydesignlearning.com/fun-reptile-facts-kids/