Maansand!

Maansand!

Maansand. Nee, dis nie iets wat jy net op die maan kry nie. En nee, dis ook nie eetbaar nie… alhoewel, as jy produkte uit julle kruidenierskas gebruik om dit te maak, behoort jou kinders niks oor te kom as hulle ‘n bietjie daarvan proe nie.

Maansand is ‘n sensoriese speelsand waarmee meeste kinders geniet om te speel. As dit saamgepers word hou dit die vorm, maar dit is sag en kan maklik weer verkrummel word. Dit kan oor en oor gevorm word sonder dat mens water hoef by te voeg. In my eie ervaring kan dit kinders vir ure besig hou.

Dis baie eenvoudig om self te maak en verg net 2 bestandele vir die basiese resep: meel en olie.

Ons het in die verlede baba-olie gebruik maar julle kan ook enige olie wat gebruik kan word vir kos (olyfolie, sonneblomolie, klapperolie, ens.) vir die resep gebruik, veral as dit nodig is dat dit proe-veilig moet wees.

Vir die meel het ons gewone koekmeel gebruik, maar julle kan ook mielieblom (Maizina) gebruik.

Meng die olie en meel in ‘n 1 tot 8 verhouding. Met ander woorde 1 koppie olie en 8 koppies meel. As jy minder wil maak: 1/2 koppie olie en 4 koppies meel; of ‘n 1/4 koppie olie en 2 koppies meel. En so voorts.

Meng dit tot die olie deurgemeng is en dit nie meer klonterig is nie, en maak ook seker dat al die meel ingemeng is.

Om dit te kleur is daar verskeie maniere:

  • Kleursel – Julle kan enige voedselkleursel byvoeg. Die gel-kleursel sal beter werk, terwyl die gewone waterbasis koekkleursel moontlik ‘n onegalige kleur sal veroorsaak.
  • Bordkryt – Maak dit fyn en meng dit in.
  • Poeierverf of ge-aktiveerde houtskool (activated charcoal)- Voeg klein hoeveelhede by totdat julle die regte kleur het.

Indien julle kleursels in meng, onthou om seker te maak dit word nie nat nie anders mag dit dalk vlek.

Eksperimenteer ook gerus met geursels of ‘n paar druppels essensiële olies. Dit kan net wonderlik ruik en stimulasie vir nog ‘n sintuig byvoeg.

Speel buite met die maansand, of as julle binne wil speel, bedek die vloer met ‘n handoek of kliekie, om skoonmaak te vergemaklik. As dit op die mat of vloer mors, kan die mengsel gewoonlik maklik opgesuig word met die stofsuier.

Kyk hier hoe om maansand te maak:

Welcome to HappyDooDa!

Contact Info.

info@happydooda.co.za

Quick Links.

© 2025 HappyDooDa