Ons fokus hierdie jaar op aardwetenskappe in ons “wetenskap-klas”. Nadat ons geleer het van die aarde se ontwerp, of hoe hulle vermoed die aarde aanmekaar gesit is, het ons geleer van vulkane, klippe, berge en grotte. Ons het ook geleer van kristalle, soos diamante, edelgesteentes en kwarts, wat vorm uit oplossings van minerale. Kristalle vorm baie keer in die grond, klippe en holtes. Ons het dan ook hierdie eksperiment gedoen, om te observeer hoe kristale vorm.

Benodighede:
- 1/2 koppie baie warm water
- 1/2 koppie (plus nog) Engelse sout
- voedsel kleursel
- skoon gewaste eierdoppe
- witgom
- houertjies om dit in te laat staan
Metode:
- Berei die eierdoppe voor: Kristalle het iets nodig om op te groei. Was en laat die eierdoppe droog word. Smeer ‘n dun lagie witgom binne die eierdoppe en sprinkel dit met die Engelse soutkorreltjies. Laat dit droog word.
- Berei die groeimiddel voor: Maak ‘n versadige oplossing met die water en Engelse sout. (‘n Versadige oplossing vorm wanneer daar nie meer sout in die water kan oplos nie. Kookwater kan meer sout in neem as wat koue water kan.) Hou aan om bietjies-bietjies sout in die water te gooi en te roer, totdat die sout nie meer wil oplos nie.
- Deel die oplossing in verskillende glasies of houertjies en voeg ‘n paar druppels voedselkleursel by elkeen.
- Sit versigtig die halwe eierdoppe in die oplossing en maak seker dis heeltemal onder die water. Kristalle kan net groei waar die oplossing is.
- Skuif die houertjies na ‘n plek waar dit nie in die pad sal wees nie en laat dit ‘n paar ure tot dae staan. Gaan kyk gereeld hoe jou kristalle groei. Ons het opgemerk dat party ‘n lagie kristalle op die oppervlakte van die oplossing gekry het. Ons het die bo-lagie gebreek sodat ons die kristalle binne kon uithaal.

Na ‘n paar dae het ons die eierdoppe uitgehaal en dit laat droog word. Ons het opgemerk:
- Die eierdoppe het meeste van die voedselkleursel opgetrek en was nou die kleur van die oplossing waarin dit was.
- Sommige kristalle ‘n bietjie witter geword nadat dit droog geword het.

Kyk gerus na die kristalle onder ‘n mikroskoop of met ‘n vergrootglas. Kristalle kan verskillende vorms hê. Probeer gerus oplossings van verskillende soorte: bv. tafelsout, suiker, borax, aluin (aluminiumkaliumsulfaat) of kopersulfaat.
Leer meer:
- As jy meer oor kristalvorms wil leer kan jy hier oplees oor dit.
- Ducksters – Crystals
- Brittanica – Crystals
- Video – Grow crystals in eggshells
- Video – Groei suiker kristalle
- Video – Groei groot kristalle
