Antieke China

Welkom by die fassinerende wêreld van Antieke China! ‘n Land vol hoë berge, vloeiende riviere en besige stede wat wemel. Antieke China is een van die oudste beskawings ter wêreld, met ‘n geskiedenis wat meer as 5 000 jaar terug dateer! Van die Groot Muur wat oor die landskap strek tot ongelooflike uitvindings soos papier, vuurwerke en selfs die kompas – Antieke China is vol wonderlike stories wat wag om ontdek te word. Het jy al ooit gewonder hoe mense geleef het, wat hulle geglo het, of oor die fassinerende dinastieë wat geheers het?

’n Dinastie is ’n koninklike familie wat ’n land regeer en dikwels leierskap van een geslag na die volgende oordra. Stel jou ‘n gesin voor waar die ouers konings en koninginne is, en dan word hul kinders groot gemaak om ook heersers te wees. Die koninskap kan oor baie jare oorgedra word, soms selfs oor honderde jare! In antieke China was daar baie dinastieë, elkeen met ‘n unike naam, soos die Ming-dinastie of die Qing-dinastie. Elke dinastie stel wette op wat vir hulle belangrik is, bou indrukwekkende strukture en beïnvloed die kultuur. Net soos jou gesin spesiale tradisies kan hê, het dinastieë hul eie gebruike en oortuigings waarvoor hulle bekend is. Dinastieë kan baie magtig wees, en hulle kan help om die geskiedenis van ‘n land te vorm, net soos jou familie help om te vorm wie jy is!

Xia-dinastie (c. 2070 – 1600 vC) – Word beskou as die eerste dinastie in die Chinese geskiedenis, hoewel die bestaan daarvan gedebatteer word omdat daar ‘n gebrek aan geskrewe rekords is.

Shang-dinastie (c. 1600 – 1046 vC) – Bekend vir gevorderde bronstegnologie, skryfstelsel en rituele praktyke. Dit het die grondslag gelê vir Chinese skryfwerk en regeringstruktuur.

Zhou-dinastie (c. 1046 – 256 vC) – Hierdie dinastie word in twee tydperke verdeel: Wes-Zhou en Oos-Zhou. Bekend vir filosofiese ontwikkelings soos Confucianisme en Daoïsme. In hierdie dinastie was ‘n tydperk wat die Lente en Herfs tydperk genoem is en ‘n oorlog tydperk het tussen die state geheers van 476–221 BC. Na hierdie tyd begin Imperiale China.

Qin-dinastie (221 – 206 vC) Bekend daarvoor dat China onder keiser Qin Shi Huang verenig het. Hy het beduidende hervormings geïmplementeer, insluitend standaardisering van gewigte, mates en skrif, en begin met die bou van die Groot Muur.

Han-dinastie (206 vC – 220 nC) – Bekend vir kulturele, tegnologiese en ekonomiese vooruitgang, insluitend die syhandelsroetes. Die Han-era verteenwoordig ‘n goue era in die Chinese geskiedenis, sowel as die vestiging van Confucianisme as die staatsideologie.

Sui-dinastie (581 – 618 nC) – Bekend vir die hereniging van China na ‘n paar eeue van fragmentasie. Die Groot Kanaal is begin, wat handel en vervoer tussen noordelike en suidelike China verbeter het.

Tang-dinastie (618 – 907 CE) – Word beskou as ‘n hoogtepunt in die Chinese beskawing, bekend vir sy kulturele uitbreiding, kosmopolitiese stede, poësie (Li Bai, Du Fu) en Boeddhistiese invloede. Die Tang-kode het die grondslag gelê vir latere regstelsels.

Song-dinastie (960 – 1279 CE) – Gevier vir ekonomiese welvaart en tegnologiese innovasie, insluitend die uitvinding van buskruit, drukwerk en vooruitgang in landbou. Die tydperk is ook bekend vir die opkoms van kommersialisme en verstedeliking.

Yuan-dinastie (1271 – 1368 CE) – Gestig deur Kublai Khan, was dit die eerste keer dat die hele China deur ‘n vreemde mag (Mongole) regeer is. Die dinastie is bekend vir die bekendstelling van nuwe kulturele invloede en die uitbreiding van handel langs die syhandelsroete.

Ming-dinastie (1368 – 1644 CE) – Bekend vir kulturele herstel, konstruksie van die Verbode Stad, en see verkenning gelei deur Zheng He. Die Groot Muur is ook gedurende hierdie tydperk aansienlik herbou.

Qing-dinastie (1644 – 1912 CE) – Die laaste imperiale dinastie van China, bekend vir territoriale uitbreiding en multi-etniese heerskappy. Die Qing-era het aansienlike bevolkingsgroei, handelsuitbreiding en kulturele prestasies beleef, maar het ook interne twis en buitelandse ingryping in die gesig gestaar, wat tot die uiteindelike val gelei het.

Hierdie tydlyn bied ‘n kort oorsig van die belangrikste dinastieë in antieke China en bevat die belangrike bydraes en gebeure van elke era.

Verbeel jou jy loop deur die besige strate van antieke China! Die mense daar het pragtige klere van sy gedra, wat glad en blink was. Mans het dikwels lang tunieke gedra, terwyl vroue geklee was in kleurvolle rokke genaamd “hanfu” wat elegant gevloei het. Die antieke Chinese kultuur het ook spesiale bykomstighede waardeer, soos breë gordels en pragtige haarnaaldjies!

As dit by kos kom, het mense heerlike geregte met rys, noedels en groente geniet. Hulle het dikwels hul maaltye gedeel en om ‘n groot tafel bymekaargekom terwyl hulle met stokkies eet. Vir nagereg het hulle soet lekkernye soos maankoeke tydens feeste geëet!

Die lewe in antieke China was gevul met interessante daaglikse aktiwiteite. Kinders het speletjies gespeel, soos “jianzi,” ‘n voet/skop speletjie, terwyl volwassenes aan die boerdery gewerk het, handel gedryf het of pragtige potte gebak en skilderye vervaardig het.

Die huise was ook uniek! Die meeste mense het in eenvoudige huise van hout gewoon, terwyl die rykes groter, deftiger huise met kleurvolle teëls en pragtige tuine gebou het. Jy sal dalk ook hoë pagodes of tempels sien wat lyk soos hoë torings wat die lug in reik. Hierdie geboue stel die wonderlike vaardighede van antieke Chinese argitekte ten toon!

Feeste was ook ‘n groot deel van die lewe, soos die helder en lewendige Chinese Nuwejaar, wat gesinne met vuurwerke en draakdanse gevier het.

Antieke China het ‘n ryk en fassinerende mengsel van godsdienste gehad wat die lewens van sy mense gevorm het. Een van die hoof godsdienste is Confucianisme genoem, wat meer as 2 500 jaar gelede deur ‘n filosoof genaamd Confucius gestig is. Hy het geleer om vriendelik te wees, mekaar te respekteer en verantwoordelikheid vir mens dade te aanvaar. Dit beklemtoon die belangrikheid van leer en moraliteit, en lei mense hoe om ‘n goeie lewe te lei en ander met respek te behandel. Mense wat Confucianisme gevolg het, het geglo dat as almal mekaar goed behandel en hard werk, die samelewing vreedsaam en harmonieus sou wees.

Nog ‘n belangrike geloofstelsel in antieke China was Taoïsme. Taoïsme, wat deur ‘n filosoof genaamd Laozi gestig is, leer dat mense in harmonie met die natuur moet leef en balans in hul lewens moet vind. In plaas daarvan om alles om mens te probeer beheer, glo Taoïste dat mens saam met die vloei van gebeure moet gaan, baie soos ‘n rivier. Hulle het meditasie en diep refleksie beoefen terwyl hulle die skoonheid van die wêreld verken het, in die hoop om met die “Tao” te verbind, wat “die weg” beteken.

Boeddhisme het ook ‘n belangrike rol in antieke Chinese godsdiens gespeel. Dit het in Indië begin en is sowat 2 000 jaar gelede na China gebring. Boeddhisme fokus op persoonlike geestelike groei en begrip. Dit leer dat die lewe vol uitdagings en lyding is, maar deur die leerstellings van die Boeddha te volg, kan hulle vrede en geluk vind.

Saam het hierdie drie filosofieë—Confucianisme, Taoïsme en Boeddhisme—gevorm hoe die mense in antieke China gedink en opgetree het. Hulle het verskillende maniere gehad om die wêreld te verstaan, maar almal het vriendelikheid, respek en ‘n dieper verbintenis met die lewe rondom hulle aangemoedig.

In antieke China het mense nie altyd munte of papiergeld gebruik soos ons vandag doen nie. Aanvanklik het hulle direk met goedere gehandel, wat ruilhandel genoem word. Stel jou voor as jy ‘n speelding wou hê wat iemand anders gehad het, en jy het jou gunsteling plakker (sticker) daarvoor verruil! Dit is hoe ou Chinese families dinge soos rys, sy en pottebakkery uitgeruil het. Maar namate handel gegroei het, het mense ‘n beter manier nodig gehad om ruilings te maak. So, hulle het dinge soos skulpe en stukke metaal as geld begin gebruik. Omstreeks 600 vC het die Chinese hul eie munte geskep, gevorm soos ‘n sirkel met ‘n vierkantige gaatjie in die middel. Hierdie munte het handel baie makliker gemaak! Soos die tyd aangegaan het, is selfs papiergeld tydens die Tang-dinastie uitgevind, wat baie handig was omdat dit ligter was om rond te dra. Op hierdie manier kon mense koop wat hulle nodig het sonder om heeltyd swaar munte te dra. Die ontwikkeling van geld in antieke China was ‘n belangrike stap wat gehelp het om te vorm hoe ons vandag handeldryf deur ware te koop en verkoop!

Die Terracotta weermag is een van die grootste ontdekkings van antieke China! Dit is duisende lewensgrootte standbeelde wat meer as 2 200 jaar gelede gebou en gerangskik is om die graf van China se eerste keiser, Qin Shi Huang, te beskerm. Toe die keiser gesterf het, wou hy ‘n leër saamneem na die hiernamaals (nadood), so hy het meer as 8 000 soldate van klei laat maak! Elke standbeeld is uniek, met sy eie gesigsuitdrukkings, hare en selfs klere, wat die verskillende afdelings van die soldate wys. Hulle het ook perde en strydwaens gehad. Dit het ‘n mini-weermag geskep wat gereed was vir veg!

Die Terracotta-weermag is in 1974 ontdek deur boere wat ‘n put gegrawe het, en sedertdien het argeoloë hierdie skat sorgvuldig oopgegrawe. Hierdie massiewe ondergrondse leër sluit boogskutters, soldate en ruiters in, wat dit een van die grootste grafte ter wêreld maak. Dit help ons om te leer oor antieke Chinese kultuur, militêre strategieë en die wonderlike vakmanskap van die tyd. Om die Terracotta-weermag te besoek is soos om terug te stap in tyd om te sien hoe die antieke Sjinese hul leiers vereer het en in lewe na die dood geglo het!

Die Groot Muur van China is een van die indrukwekkendste strukture in die wêreld! Dit is meer as 2 000 jaar gelede, ongeveer 221 v.C., tydens die Qin-dinastie begin gebou. Die muur is gebou om China teen invalle te beskerm en om handel langs die Syroete te help beheer. Verskillende dele van die muur is deur verskillende dinastieë gebou, soos die Han en Ming, en hulle het ook verskillende materiale gebruik. Sommige dele is van grond en hout gemaak, terwyl ander dele weer van bakstene en klip gemaak is, hierdie dele is baie sterk en stewig. Kan jy glo dat die Groot Muur so groot is dat dit vanuit die buitenste ruimte gesien kan word? Dit strek oor 20 000 km! Baie werkers, insluitend soldate, kleinboere en gevangenes, het gehelp om hierdie massiewe muur met net hul hande en eenvoudige gereedskap te bou. Vandag is die Groot Muur ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid waar mense van regoor die wêreld op sy ou strukture kom stap en foto’s neem. Stel jou voor dat jy bo-op die muur staan en uitkyk oor die pragtige heuwels en valleie van China. Dit is soos om terug te kyk na ‘n tyd toe keisers geleef het en die muur gewoel het van bedrywighede. Die Groot Muur van China is nie net ‘n merkwaardige ingenieurstruktuur nie, maar dit is ook ‘n plek vol stories en geskiedenis wat wys hoe mense kan saamwerk om iets buitengewoons te skep!

Antieke China was ‘n plek vol wonderlike uitvindings wat die wêreld verander het. Een van die belangrikste uitvindings was papier, wat omstreeks 105 nC ontwerp is deur ‘n man met die naam Cai Lun. Voor papier het mense op bamboesstroke of dierebene geskryf. Papier het dit makliker gemaak om idees en stories te deel. Van bamboes gepraat, antieke Chinese mense het ook die bamboes plankies gebruik om boekrolle te maak, dit was opgerol soos lang stukke papier, hierop kon hulle belangrike dinge skryf.

Nog ‘n interessante uitvinding van antieke China is die vlieër! Vlieërs is meer as 2 000 jaar gelede vir die eerste keer gemaak en is nie net vir pret en plesier gebruik nie, maar ook om boodskappe te stuur of selfs die wind te toets.

En laat ons nie vergeet van sy nie. Sy is ‘n pragtige materiaal gemaak van die sy van sywurms en is hoog op prys gestel vir die maak van klere. Die geheim om sy te maak, is vir baie jare deur die Chinese bewaar, wat dit baie spesiaal gemaak het! Sy het so gewild geword dat dit verhandel is langs ‘n lang pad deur Asië genaamd die Syroete, wat China met ander lande verbind het. Hierdie pad was nie net vir sy nie; dit het mense gehelp om baie goedere te verhandel en ook idees te deel.

Ander uitvindings sluit in plofstof, vuurwerke, die kompas, porselein, die telraam (abacus) en die seismograaf. Hierdie uitvindings wys hoe slim die mense van antieke China was en hoe hulle idees van lank terug steeds ons lewens vandag beïnvloed!

Wikipedia – Die Geskiedenis van China

Kiddle

World History

Ducksters

Die Groot Muur van China

Videos:

Comments (1)

[…] Lees die artikel oor Antieke China Photo by Johannes Plenio on Pexels.com […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *