Slakke

Alle slakke is weekdiere, dit beteken hulle is sagte diertjies wat nie ‘n ruggraat of bene in hulle lywe het nie. Verder het weekdiere baie keer ‘n dop of skulp, maar nie altyd nie, en hulle bly in vogtige plekke soos die see, damme, mere of tuine. Ander weekdiere is mossels, oesters, seekatte, en inkvisse.

Ons kry 2 algemene soorte slakke: tuinslakke met doppe en doplose-slakke (of naakslakke). Tuinslakke behoort aan die spesie *Helix aspersa*, terwyl doplose-slakke aan *Arion hortensis* behoort. Wat is die belangrikste verskil tussen hulle? Tuinslakke het skulpe of doppe, terwyl doplose slakke nie het nie! Verder is hulle baie dieselfde.

Waar bly slakke? Slakke hou van klam en koel plekke met baie plante. Jy kan hulle in tuine, parke en enige plek met plante kry. Hulle floreer in klam omgewings met temperature tussen 4 °C en 27 °C.

Slakke is geoefende in glyers. Hulle het net een voet daarom word hulle ook buikpotiges genoem. Hulle gebruik hierdie gespierde voet om op ‘n laag slym te gly. Die slym help hulle om te klim, te kruip en selfs om onderstebo te seil! Dit beskerm die voet teen warm en growwe oppervlaktes, en dit help ook die slak om teen goed vas te suig, sodat hy nie afval nie. Verder word die slympaadjies gebruik om ander slakke te vind, bekende bestemmings te bereik en tydens voortplanting. Het jy al slak-spoortjies gevolg? Dit blink in die son as dit droog is.

Wat eet slakke?

Hierdie glibberige vriende is herbivore en hou van: blare, stingels, blomme, vrugte en groente. Hulle eet selfs verrottende plante en swamme! Sommige slakke eet spesifieke plante, soos alge of ligene. Sommige mense beskou slakke as peste in die tuin omdat hulle plante kan beskadig en siektes tussen plante kan versprei.

Slakke het ‘n sagte, beenlose liggaam wat bedek is met ‘n beskermende laag slym. Op die rug is daar ‘n sagte hobbel waarin al die slak se organe is. Die slakke met doppe se hobbel en organe is in die dop. Hulle eet met ‘n radula: ‘n tongagtige orgaan aan die onderkant van die kop. Bo-op en voor aan die kop is twee pare tentakels wat soos voeleragtige strukture lyk, vir waarneming. As iets aan dit raak trek die slak dit terug, en lyk dit of die tentakel kleiner word.

Slakke is primêre verbruikers (hulle eet plante) en is dus kwesbaar as prooi vir baie roofdiere (in die voedselketting) soos: voëls, krimpvarkies, paddas, skilpaaie en sekere kewers. Ander gevare wat vir hulle skadelik kan wees is: droë omgewings, uiterste temperature (baie warm of baie koud), plaagdoders en sout.

Slakslym, of helicid, het antibakteriese en anti-inflammatoriese eienskappe. Sommige skoonheidsmiddels en velsorgprodukte gebruik slakslym om genesing van die vel te bevorder.

Tuinslakke lyk dalk stadig en grillerig, maar hulle is fassinerende klein wesenstjies met baie unieke kenmerke en hulle het hulle eie plekkie in ons wêreld.

  • Slakke het tot 25 000 tande (wat elke paar weke vervang word!). ’n Tuinslak het ongeveer 14 000 tande.
  • Slakke kan tot 3 jaar lank slaap.
  • Slakke kan tot 5 jaar leef.
  • Dopslakke het 40 000 spesies, terwyl doplose slakke 40 het.

1. Teken ‘n prentjie van jou gunsteling tipe slak.

2. Skep ’n slakterrarium, hier is ‘n video wat jou wys hoe.

3. Ondersoek en neem slakke waar in hul natuurlike habitat. Maak ‘n lys van al die verskillende eienskappe wat jy waargeneem het. Wat het jy geleer? Wat was vir jou snaaks? Wat was vir jou grillerig?

Slak, doplose, weekdiere, ruggraat, skulp, dop, vogtige, klam, koel, floreer, temperatuur, buikpotige, gespierde voet, slym, glibberig, herbivoor, verrottende, peste, tentakel, waarneming, kwesbaar, eienskappe.

Lees: Wikipedia, Britannica, Kiddle,

Lees ‘n Afrikaanse storie oor slakke: Slakke het ook gevoellens

Lees ‘n Afrikaanse koerantberig oor ‘n slakvelbehandeling: ‘n Gesondervel met behulp van… slakke?

Lees meer oor hoe om slakpeste in die tuin te beheer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *