Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.
Ons leer in hierdie artikel van voëls.










Voorbeelde van Voëls
- Pou
- Volstruis
- Papagaai
- Emo
- Pikkewyn
- Suikerbekkie
- Valke
- Arend
- Duif
- Vinke
- Mossie
Eienskappe/ kenmerke
- Ruggrate/skelet – Alle voëls is gewerwelde diere. Dit beteken hulle het ‘n ruggraat en bene wat hulle lyf struktuur gee en hulle organe beskerm.
- Warmbloedig – Alle voëls is warmbloedig. Dit beteken dat hulle liggaam temperatuur aan die binnekant altyd dieselfde bly ongeag hoe koud of warm dit buite hulle is.
- Haal asem met longe – Net soos soogdiere en reptiele haal voëls ook asem met longe.
- Snawels – Voëls het nie tande nie, maar snawels.
- Vere – Voëls se lywe is bedek met vere. Hulle is die enigste diere wat vere het.
- Vlerke – Voëls het 2 vlerke en 2 pote, anders as meeste diere wat 4 pote het.
- Pote – Voëls het 2 pote met 3 tot 5 tone wat aangepas is vir hulle spesifieke doeleindes en habitat.
- Eiers en neste – Voëls vermeerder deur eiers te lê en uit te broei in neste wat hulle gebou het.
Waar kom hulle voor?
Voëls kom reg oor die hele aarde voor. Van die warmste woestyn tot die koue Antartika.

Wat eet hulle?
Voëls kan karnivore, herbivore of omnivore wees. Meeste voëls se snawels, pote en vlerke is aangepas by dit wat hulle eet. Roofvoëls, soos arende en uile, kan hoog vlieg en het goeie sig om klein diertjies, visse of slange makliker raak te sien. Seevoëls, soos meeue en albatrosse, se vlerke en snawels is ook aangepas om vinnig en lank oor die see te sweef en vis te vang. Mossies en ander saad eters het weer kort, krom snawels om saadjies uit hulle doppies te haal. Voëls eet sade, of vrugte, of nektar, of insekte, of slange, of muise, en nog ‘n klomp ander soorte kos.
Snawels
Snawels is die harde bekke van voëls; die buitekant is gemaak uit keratin (die selfde as naels, hare en vere). Voëls het nie tande nie en hulle snawels lyk verskillend afhangend van wat hulle eet. Papagaaie het skerp, krom bekke om neute en sade te kraak, terwyl suikerbekkies lang snawels het om die nektar in die blomme by te kom; arende en roofvoëls het sterk, skerp en krom snawels sodat hulle vleis kan skeur en van bene kan aftrek, terwyl ‘n lepelaar ‘n lang, plat snawel het wat lyk soos ‘n lepel waarmee hy deur die water sif vir sy kos.

Verskillende soorte voëls
Wetenskaplikes beweer dat daar tussen 9000 en 11000 soorte voëls in die wêreld is. Alhoewel almal van hulle dieselfde eieskappe het wat hulle voëls maak, is daar ook baie verskille tussen die verskillende spesies. ‘n Arend is nie dieselfde as ‘n suikerbekkie nie en ‘n hoender is nie dieselfde as ‘n mossie nie, maar tog bly hulle almal voëls.
Meeste voëls kan vlieg, maar ons kry ‘n groepie voëls wat nie kan vlieg nie, byvoorbeeld volstruise, die kiwi en die emu. Daar is ook voëls wat nie goed of hoog kan vlieg nie soos hoenders, en tarentale, omdat hulle lywe te swaar is.
Ons kan voëls groepeer volgens wat hulle eet of hulle gewoontes. Roofvoëls is almal voëls wat jag vir hulle kos, groot kloue vir pote het en slegs vleis eet, soos uile, arende, aasvoëls en valke. Reiers is ‘n groep voëls wat lang snawels, bene en nekke het, en baie grasieus beweeg. Pluimvoëls is voëls wat aangehou kan word om mee te boer, soos hoenders, ganse, swane, poue, en kalkoene. En watervoëls is voëls wat gewoonlik by water bly of gevind kan word.
Trekvoëls migreer in die herfs na warmer plekke en kom weer terug in die lente, gewoonlik tussen die noordelike en die suidelike halfrond. Hierdie verskynsel word migrasie genoem en omtrent 20% van voëls doen dit. ‘n Voorbeeld hiervan is die Europese swaeltjie wat tussen Suid-Afrika en Europa trek. Ganse, eende en swane is ook trekvoëls.
Kan jy dink aan nog groepe voëls?

Vere
Vere help voëls om warm te bly, om te vlieg en om mooi te lyk. Daar is verskillende vorms van vere, elk met hulle eie werk.
- Donsvere kom gewoonlik by baba voëltjies voor, of teen die lyf van volwasse voëls om hulle warm te hou.
- Dekvere is die gewone vere wat die lyf bedek en die voël mooi laat lyk.
- Penvere is sterker vere wat op die vlerke en stert voorkom en ‘n voël help om te vlieg.
Vere kan ‘n waterdigte laag vorm, dit laat voëls makliker dryf op die water en help watervoëls om droog te bly onder water of om vinniger droog te word. Laaste gebruik mannetjie voëls soos die pou ook sy vere om die wyfie se aandag te trek. In die diereryk is dit die mannetjies wat hulleself mooi maak en die wyfies is gewoonlik valer van gestalte.

Vlerke
Voëls gebruik vlerke hoofsaaklik vir vlieg, maar ook vir ander dinge soos om hulle self te beskerm teen gevaar. Het jy al ooit gesien dat ‘n voël sy vlerke groot oopmaak en skree sonder om te vlieg? Hy probeer om homself so groot as moontlik te laat lyk, sodat sy aanvaller sal weg beweeg.
Voëls se vlerk vorm is spesifiek ontwerp sodat hulle in die lug kan bly wanneer hulle vlieg. Die vorm van die vlerk druk die lug af en die voël op, net soos ‘n vliegtuig se vlerke. Elke spesie se vlerkvorms is aangepas by die manier waarop die voël vlieg. Die albatross het lang vlerke wat hom help om vir lang tye te sweef oor die see, en so min as moontlik energie te gebruik terwyl hy/sy in die lug is. Terwyl die suikerbekkie se vlerke weer so gevorm is dat hulle maklik op een plek kan bly, deur die vlerke baie vining te beweeg. Hulle kan selfs agtertoe beweeg.
Hoe ligter die voël is hoe makliker kan hy vlieg, daarom is voëls se grootste bene hol aan die binnekant. Die spiere van die bors af na die vlerke toe, is baie sterk om die vlerke te ondersteun wanneer die voël vlieg.





Pote
Meeste voëls het 2 tot 4 tone aan elke poot wat vorentoe wys en een wat agter toe wys. Die bene is bedek met vere aan die bokant en ‘n skubberige vel aan die onderkant.
Papagaaie en houtkappers het twee tone wat voorentoe wys en twee wat agtertoe wys sodat hulle gemakliker in bome kan rond klouter. Reiers en flaminke het lang bene en tone, sodat hulle in water kan loop en kos soek sonder om in die modder weg te sak. Eende het kort bene met webbe tussen hulle tone, sodat hulle makliker kan swem. Arende en roofvoëls het skerp naels en sterk tone wat kloue vorm sodat hulle hulle prooi kan vang.
Eiers en neste
Anders as reptiele het voëleiers harde doppe en die ouer broei die eiers uit en versorg die kleintjies totdat hulle volwasse genoeg is om op hulle eie te lewe. Party voëls is meesters as dit by nesbou kom. Dink maar aan ‘n vink se nessie wat slegs aan ‘n takkie hang. Verskillende voëls gebruik verskillende materiaal vir hulle neste: gras, stokkies, spoeg, vere, modder, mos en selfs spinnekopwebbe vir sekere suikerbekkies. Het jy al probeer om ‘n nessie te weef? Dit is baie moeiliker as wat voëltjies dit laat lyk.

Interessante feite
- Die kleinste soort voël is ‘n bykolibrie en word net ongeveer 5,5cm lank.
- Die grootste voël is die volstruis wat ongeveer 2,5 meter lank word.
- Die voël met die langste vlerkspan is die grootmalmok met ‘n vlerkspan van ongeveer 3 meter.
- Suikerbekkies is die enigste voëls wat agteruit kan vlieg.
- Die studie van voëls word ornitologie genoem en ‘n ornitoloog is ‘n voëlkenner.
- Voëls het hol bene om hulle ligter te maak sodat hulle makliker kan vlieg.
- Party voëlspesies is slim genoeg om gereedskap te maak en te gebruik, bv. kraaie.
- Sekere duiwe kan boodskappe van een punt na ‘n ander neem en is al in oorloë gebruik om boodskappe te stuur.
- Sekere albatrosse kan vir maande aan een oor die see vlieg, en hulle slaap terwyl hulle vlieg.
- Die koekoek voël bou nie sy eie nes nie, maar lê haar eiers in ‘n ander voël se nes en laat daardie voël die kleintjies grootmaak.
Kan jy hierdie vrae antwoord?
of probeer hierdie een in Engels.
Videos:
Kyk na hierdie lys van videos om oor verskillende voëls te leer:
Bronne en leer meer: