Amfibieë

Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibieë.

Ons leer in hierdie artikel van amfibieë.

Voorbeelde van Amfibieë

Paddas – Paddas word opgedeel in 2 groepe: paddas wat meestal op droër grond bly (toads) en paddas wat nader aan of in water bly (frogs). Die eerste groep se vel voel growwer, terwyl die tweede groep se velle glad en glibberig is.

Salmanders – Salmanders is klein slymerige diertjies met 4 pote. Hulle lyk amper soos vet akkedisse.

Wurmsalmander – ‘n Wurmsalmander is ‘n soort diertjie wat lyk soos ‘n wurm, ‘n slang en ‘n paling. Hulle bly meestal in die grond of in die water en mens sien hulle nie gereeld nie. Baie min is bekend oor hierdie groep.

Eienskappe/ kenmerke

Alle amfibieë is gewerwelde diere en het ‘n ruggraat.

Hulle is koudbloedig – dit beteken hulle lyf is dieselfde temepratuur as die water of lug om hulle. Hulle kan nie hulle liggaamstemperatuur beheer, soos soogdiere, nie.

Hulle lê eiers. Spesies soos paddas lê groot hoeveelhede eiers in skuim om te verseker dat groter hoeveelhede kleintjies volwassenheid bereik. Die eiers is baie keer deurskynend.

Nadat amfibieë uitgebroei het, moet hulle in water leef en metamorfose ondergaan om volwasse te word. Paddas se kleintjies noem ons paddavissies omdat die paddavissie net soos ‘n vissie lyk met ‘n kop en lang stervin. Kort voorlank ontwikkel die twee agterpootjies eerste en daarna die voorpootjies. Mettertyd word die stertjie kleiner, totdat dit heeltemal weg is en die padda volwasse is.

Amfibieë se kleintjies gebruik kieue om asem te haal, maar ontwikkel longe soos wat hulle ouer word. Die volwasse diere het longe, en haal asem deur hulle neus, mond en vel.

Hulle vel is nat, sodat hulle makliker kan asemhaal en beweeg. Hierdie eienskap, om deur hulle vel asem te kan haal, laat somige spesies toe om onder die water te bly vir die hele winter.

Gewebde tone – om te help met swem en deur die water beweeg, is meeste ambiese spesies se tone geweb. Dit beteken daar is ‘n dun vliesie tussen die tone.

Wat beteken die woord

Die woord amfibieë kom van Grieks af en beteken ‘twee lewens’. Dit verwys na die feit dat hulle in die water en op land kan lewe.

Waar kom hulle voor?

Amfibieë bly in en naby water. In velde, vleilande, woude en reënwoude. Hulle hou meestal van warmer en tropiese klimate, en kom op al die kontinente, behalwe Antartika, voor.

Wat eet hulle?

Volwasse amfibieë is meestal karnivore en eet lewendige insekte en enige diertjies wat kleiner as hulle is, alhoewel hulle plantmateriaal eet terwyl hulle in hulle onvolwasse stadium is. Hulle sluk hulle prooi heel in, en kan net vang en eet wat deur hulle monde en in hulle maggies kan pas, daarom is hulle monde groot en plat. Die groot brulpaddas sal selfs muise eet as hulle dit kan vang.

Interessante feite

  • Party spesies het spesiale kussingtjies onder hulle tone wat hulle laat vasklou aan glibberige oppervlaktes soos gladde klippe.
  • Hulle kan nie in soutwater leef nie, maar soek altyd varswater bronne.
  • Hulle hoef nie water te drink nie en neem water deur hulle velle op.
  • Die grootste amfibiese spesie is die Sjinese Salmander wat tot 1,8m lank word.
  • Die kleinste amfibiese spesie is die New Guinea padda wat net 7,7mm groot word.
  • Amfibieë se getalle neem af en moet beskerm word.

Videos:

Bronne:

https://simple.wikipedia.org/wiki/Amphibian

https://www.ducksters.com/animals/amphibians.php

https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/amphibians/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *