Net soos ons dinge kan opdeel in groepe van dieselfde kleure of dinge wat dieselfde vorm het, het wetenskaplikes alle lewende dinge in groepe gedeel wat soortgelyke eienskappe het. Hulle het begin deur alles wat lewendig is by mekaar te sit, daarna het hulle opgemerk dat daar diere en plante is en dit in die afsonderlike groepe geplaas. So het dit aangegaan totdat hulle tussen gewerwelde diere en ongewerwelde diere onderskei het. Gewerwelde diere kan in 5 hoof groepe opgedeel word: soogdiere, voëls, reptiele, visse, en amfibië.
Ons leer in hierdie artikel van reptiele.





Voorbeelde van reptiele
- Krokodille
- Verkleurmannetjies
- Slange
- Skilpaaie
- Akkedisse
- Geitjies
- Likkewane
Eienskappe
Alle reptiele het ‘n ruggraat en is deel van die gewerwelde diere, net soos soogdiere, voëls, visse en amfibië.
Alle reptiele is koudbloedig – dit beteken hulle kannie hulleself warm hou soos ons mense nie, maar hulle lywe is dieselfde temperatuur as die lug buite. Om warm te word moet hulle iets van buite af gebruik, soos byvoorbeeld die son. Dit is hoekom ons gereeld akkedisse in die son sien bak. Ander groepe wat ook koudbloedig is, is visse en amfibië.
Alle reptiele het longe – hulle haal asem met longe soos voëls en soogdiere.
Party reptiele se velle het skubbe – Reptiele se velle is droog en leeragtig, party het skubbe, wat uit keratien bestaan, dit is dieselfde materiaal as waaruit mense se naels gemaak is. Die skubbe is soos plaatjies wat styf teen mekaar lê. Baie reptiele soos akkedisse en slange moet gereeld vervel om hulle vel groot genoeg en gesond te hou. Skilpaaie se harde dop is ook ‘n vorm van skubbe.
Reptiele lê eiers – reptiele se eiers is nie soos voëleiers nie, dit is sagter en rubberig. Die eiers word gewoonlik in ‘n gat in die grond of ‘n ander beskutte plek gelê. Wanneer die kleintjie uitbroei lyk dit net soos die volwasse dier, maar is net kleiner. Anders as soogdiere het die kleintjies van reptiele nie die volwasse dier nodig vir oorlewing nie, maar kan hulle hulleself versorg.
Hulle het nie ore wat buite hulle lyf is nie, maar het interne ore met ‘n vlies bo-oor om die oor te beskerm. Meeste reptiele se reuk en sig sintuie is baie goed ontwikkel.
Wat beteken die woord?
Die woord reptiel kom van Latyns af en beteken om te kruip. Daarom beweeg alle reptiele naby aan die grond.
Waar kom reptiele voor?
Reptiele kom op elke kontinent voor behalwe op Antartika, waar dit te koud is vir hulle.
Kos
Reptiele is karnivore of herbivore. Alle akkedis tiepe reptiele (soos akkedisse, slange en krokodille) eet vleis en goggas, terwyl skilpaaie plante en vrugte eet.
Interessante feite:
- Daar is meer as 8200 reptiel spesies.
- Party reptiele soos slange en sommige akkedisse, het nie ooglede nie en kan nie hulle oë toemaak nie. Instede van ‘n ooglid het hulle ‘n deurskynende vlies wat die oog beskerm.
- Omdat reptiele koudbloedig is, het hulle nie so baie energie nodig nie en eet baie minder gereeld as soogdiere. Sommige spesies kan maande lank wag vir hulle volgende maaltyd.
- Sekere slangspesies se kleintjies word lewendig gebore en broei nie in ‘n nes uit nie.
- Party wetenskaplikes beweer dat dinosorusse dalk reptiele was.
- Meeste reptiele hiberneer, of hiberneer gedeeltelik, in die kouer maande.
- Reptiele kan gemiddeld langer leef as ander spesies. Daar is groot skilpaaie wat ouer as 150 jaar kan word.
- Slange en akkedisse gebruik hulle tonge om te ruik. Hulle tel die reukdeeltjies (scentparticle) op uit die lug met hulle tonge en dra dit oor aan ‘n ander orgaan wat binne-in hulle mond is.
- Reptiele kan nie sweet nie en dus is hulle vel nie slymerig nie. Hulle velle is droog en glad, en hulle vervel gereeld.
- Die grootste reptiel is die soutwater krokodil wat tot 7 meter lank kan word.
- Die kleinste reptiel is die Brookesia nana, ‘n piep klein verkleurmannetjie wat net 13.5mm lank word.
Kan jy hierdie vrae antwoord?
Woordeskat
Wetenskaplike – iemand wat navorsing doen oor ‘n sekere onderwerp.
Eienskap – iets waaraan ons ‘n dier of ding kan uitken.
Gewerweld – het ‘n ruggraat.
Temperatuur – hoe warm of koud iets is.
Koudbloedig – ‘n eienskap waar die dier nie sy inwendige temepratuur kan beheer nie.
Skubbe – harde plaatjies op die vel van reptiele en visse
Leeragtig – dit voel of lyk soos leer
Keratien – ‘n harde stof waarvan naels, hare en skubbe gemaak is
Oorlewing – om aan te hou lewe
Spesie – ‘n groep diere wat dieselfde eienskappe het
Hiberneer – om deur die winter te slaap
Videos:
Reptiele
Die kleinste reptiel
Bronne:
https://www.dkfindout.com/us/animals-and-nature/reptiles/
https://www.ducksters.com/animals/reptiles.php
https://www.dictionary.com/e/amphibians-vs-reptiles/
https://differentbydesignlearning.com/fun-reptile-facts-kids/