Vorme van materie

Materie is waaruit alles om ons bestaan. Leer meer van materie hier.

Materie bestaan uit klein deeltjies wat ons atome noem. Die atome van dieselfde soort stof reageer op verskillende maniere teenoor mekaar afhangende van hoe koud of warm dit is of hoeveel energie hulle het. As dit warm kry beweeg hulle weg van mekaar af en as hulle koud kry trek hulle mekaar aan.

Materie is so bietjie soos die mense van een huis: as hulle kwaad is vir mekaar beweeg hulle weg van mekaar af, maar as hulle hartseer is gee hulle mekaar drukkies.

Daar is 4 vorme van materie wat ons in die alledaagse lewe kan observeer (waarneem).

  • vastestof
  • vloeistof
  • gas en
  • plasma

Kom ons leer van die 4 verskillende vorme

Vastestof:

‘n Vastestof se deeltjies sit baie styf teen mekaar in ‘n patroon. Dit het ‘n vaste vorm en die vorm verander nie sommer vanself nie. Dit is enigeiets wat hard is wanneer ons daaraan vat. Byvoorbeeld ys, yster, glas, ens.

Wanneer ons ‘n vastestof warm maak kan dit smelt. En word dit ‘n vloeistof.

Vloeistof:

‘n Vloeistof se deeltjies is losser van mekaar en hulle bly nie meer in ‘n vaste patroon nie, maar is nogsteeds naby mekaar. Dit het nie ‘n vaste vorm nie, maar neem nou die vorm van die houer aan waarin hulle is. Dit is ook nog swaar genoeg om af getrek te word onder toe deur gravitasie krag. Voorbeeld van vloeistowwe: water, stroop, ens.

Wanneer ‘n vloeistof koud gemaak word, word energie weggeneem van die deeltjies af en gaan sit dit weer in ‘n stywe patroon. Ons noem dit vries.

Wanneer ‘n vloeistof warm gemaak word, kry die deeltjies nog meer energie en begin die klein deeltjies wegbreek van die vloeistof af in die lug in. Ons noem die proses verdamping en ‘n gas word gevorm.

Gas:

‘n Gas se deeltjies is baie aktief (besig en vol energie) en beweeg vrylik rond in die houer waarin dit is. Dit vul die hele houer en moet ingeperk word anders sal dit in die lug ontsnap. Omdat die deeltjies baie klein is en nie so sterk aangetrek word na die ander deeltjies nie, maar op hulle eie beweeg, kan die deeltjies van ‘n gas opstyg in die lug in. Voorbeelde van gasse is: waterdamp/stoom, rook, helium, ens.

Wanneer ‘n gas koud gemaak word, word die gas weer ‘n vloeistof, die deeltjies gaan sit weer aanmekaar of aan iets wat koud genoeg is vas en druppeltjies vorm. Ons noem die proses kondensasie.

Plasma:

Die laaste vorm van materie is plasma. Plasma kan van ‘n vastestof, ‘n vloeistof of ‘n gas af ontwikkel word. Dit is wanneer die deeltjies so baie energie het, dat dit gloei en hitte afgee. Plasma het nie ‘n vaste vorm nie en beweeg die heeltyd. Voorbeelde van plasma is vuur, die son, neonligte, ens.

Speel op die simulasie model en dink aan wat jy geleer het:

Eksperimente:

Doen die volgende eksperimente saam met ‘n volwasse persoon.

  1. Gooi water in ysbakkies en vries dit in ‘n vrieskas.
  2. Smelt die ys en maak ‘n vloeistof.
  3. Kook water en maak ‘n gas.
  4. Neem ‘n koel glas en hou dit voor die stoom (wees versigtig om nie te brand nie) en maak ‘n vloeistof.
  5. Alternatief – gooi yskoue water in ‘n glas in die somer en kyk hoe die druppels waterdamp uit die lug op die glas se kant gaan sit en druppels (vloeistof) vorm.
Comments (1)

[…] vastestowwe, vloeistowwe en gasse bestaan uit materie of miljoene klein deeltjies, hierdie deeltjies word atome genoem. Verskillende […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *