Brilpikkewyne

Pikkewyne is voëls wat nie kan vlieg nie, maar wel onder die water kan swem. Hulle kan tot 2 ½ minute hulle asem ophou en tussen 50 en 130m diep duik. Pikkewyne is soos duikbote in die water en beweeg baie vining teen 3-19km/h. Hulle gebruik hulle vlerke om te swem en hulle voete om van rigting te verander.

Daar is omtrent 18 verskillende soorte pikkewyne, waarvan almal net in die suidelike halfrond voorkom. Net een soort, die brilpikkewyn of Afrika-pikkewyn, kom in Afrika voor en ook net aan die suidelike en westelike kusgebiede van die kontinent. Die twee vernaamste areas in Suid-Afrika waar hulle voorkom is naby Kaapstad en 600 km verder oos, naby Port Elisabeth (Gqeberha). ‘n Derde groot area waar hierdie pikkewyne voorkom is by die kus van Namibië.

Waar brilpikkwyne voorkom 
Image from Wikimedia Commons
Image from Wikimedia Commons

Pikkewyne verkies dit om op eilande te bly, omdat daar minder roofdiere is. In Suid-Afrika is daar verskillende eilande waarop hulle bly en broei, soos Dassen-eiland, Voëleiland, Robbeneiland, Dyereiland en St Croix-eiland.

In Suid Afrika is daar twee gebiede waar hulle op die vasteland kolonies gevorm het. Die eerste is by die Boulders strand in Simonstad en die tweede is by Stony Point in Bettiesbaai. Hier kan mens die pikkewyne van naby beskou en by Boulders strand kan mens selfs saam met hulle in die see swem.

Land kolonies van brilpikkewyne

Die brilpikkewyn het baie verskillende name, soos die Afrika-pikkewyn, die swartvoet-pikkewyn en laaste ook die “jackass”-pikkewyn (as gevolg van die donkie-agtige geluid wat hulle maak).

Pikkewyne vorm deel van die boonste trappie van die voedselketting met net ‘n paar vyande soos haaie, seeleeus en ander land roofdiere wat volwasse pikkewyne sal eet. Die kuikens en eiers word in ‘n groter mate bedreig deur verskillende voëls en landdiere.

Brilpikkewyn by Stony Point Copyright HappyDooDa
Copyright HappyDooDa

Brilpikkewyne eet hoofsaaklik sardiens en anchovies, maar ook skaaldiere soos krappe, krewe, en garnale asook sekere soort inkvisse. Pikkewyne is van die min spesies diere wat seewater kan sluk sonder om gedehidreerd te word, dit is as gevolg van ‘n spesiale klier wat die oormaat sout uit hulle bloedstroom verwyder.

Die brilpikkewyne kan enige tyd van die jaar broei en die verskillende kolonies het verskillende broeiseisoene. Meeste van die tyd het pikkewyne net een broeimaat. Hulle lê 2-3 eiers en altwee die ouers sal beurte maak om die eiers uit te broei oor die 40 dae inkubasie tydperk. Wanneer die kuikens uitgebroei het sal hulle vir 60-130 dae in die nes bly terwyl altwee die ouers hulle versorg.

Image from Wikimedia Commons

Jonelinge kan uitgeken word aan hulle bruin vere, in teenstelling met die wit en swart vere van ‘n volwasse pikkewyn. Wanneer hy oud genoeg is val sy bruin vere uit, dit word ververing genoem en in Engels staan hierdie proses bekend as “moulting”. Voordat die jong pikkewyn begin verveer ooreet hy sodat hy genoeg gewig kan optel vir die volgende 2-3 weke van die ververing. Omdat die pikkewyn nie so baie kan uitgaan in die see om te gaan jag nie en sal hy moet oorleef van sy reserwe vet totdat die ververing klaar is.

Wanneer die brilpikkewyn warm kry is die pienk stukkie vlees bokant sy oog helder pienk en sal die pikkewyn gaan swem om af te koel. Nadat die pikkewyn afgekoel het, is die pienk bokant sy oog ligter van kleur.

Al waggel pikkewyne regop buite die water swem hulle horisontaal in die water en partykeer kan mens net die kop bokant die water sien uitsteek. Hulle is perfek gekamofleer in die water. Die donker rugkant wys na bo en smelt weg in die donker oppervlak van die water vanuit die lug, terwyl die wit maagvere weer lyk soos die oppervlak van die water vir ‘n roofdier van onder af. Hulle vere is bedek met ‘n lagie olie wat hulle droog hou in die water en as hulle droog is kry hulle ook nie koud nie.

Copyright HappyDooDa

Die brilpikkewynne word al hoe meer bedreig en hulle hoeveelhede het drasties afgeneem in die afgelope paar jare. Daar is verskeie redes vir die afwaartse daling van hulle getalle:

  • Daar word bereken dat slegs 40% van eiers wat uitbroei volwassenheid bereik.
  • Besoedeling van die see met plastiek, vishoeke en -drade, en ander objekte waarin hulle verstringel raak en hulle beseer.
  • Olie van skepe sit aan hulle vere vas en laat hulle siek word.
  • En die grootste van almal is dat hulle gunsteling kos in die see, sardiens en anchovies, al hoe minder word.

Al is daar organisasies soos SANCCOB, wat die brilpikkewyne langs die kus van Suid-Afrika help, neem hulle getalle steeds af. As jy ooit in Kaapstad of Port Elisabeth is maak seker om ‘n draai by een van hulle takke te maak en meer uit te vind oor die werk wat hulle doen. Jy kan selfs ‘n pikkewyn borg en hulle so help om ‘n verskil te maak. Ander dinge wat jy ook kan doen is om bewustheid van die pikkkewyne se dilemma tussen jou vriende en familie te versprei; beter keuses te maak as jy kos uit see wil eet, bv. kies pikkewyn vriendelike sardiens en anchovies wat nie gevang word waar hulle bly nie; die strande, en so die see, skoon te hou van plastiek en ander gemors; versigtig te wees in areas waar die pikkewyne bly en rondloop.

As julle meer wil leer:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *