Gorillas is inteligente, vredeliewende diere wat naby verwant aan die mens is. Hulle ervaar emosies en het ‘n goeie geheue.
Daar is twee soorte gorillas: die oostelike gorilla (eastern gorilla) en die westelike gorilla (western gorillas). Hulle kom slegs in die reënwoude van Sentraal Afrika naby die ewenaar voor. Gorillas is krities bedreig. Daar is minder as 900 van die berg gorillas (deel van die oostelike gorilla) en mider as 300 van die “cross river” gorillas (deel van die westelike gorilla) in die wêreld oor. Van die redes hiervoor is ontbossing van hulle natuurlike habitat en mense wat hulle doodmaak vir hulle vleis.
Hierdie diere is groot en word baie keer “gentle giants” genoem, want hulle is die grootste van die aap familie. Die wyfies is effens kleiner as die mannetjies. Hulle weeg van 80-280kg en kan 1,25m tot 1,8m lank word. Hulle kan tot tussen 35 en 50 jaar oud word.
Hulle bly in troppe van 5-15 gorillas. Die leier van die trop is ‘n mannetjie en hy word ‘n silwerrug genoem, omdat die mannetjies na 13 jaar oud silwer hare op hulle rûe kry. Die jonger mannetjies het swart rûe en word swartrug mannetjies genoem. Die silwerrug pas die trop op en sal baie aggressief wees indien dit nodig is. Hy sal die trop beskerm selfs al kos dit sy eie lewe.
Gorillas maak vir hulle tydelike neste elke aand van blare en takkies waarin hulle slaap. Hulle spandeer meeste van hulle tyd op die grond, al speel hulle gereeld in die takke en blare van hoë bome. Wanneer hulle moet loop, beweeg hulle op die kneukels van hulle hande. Af en toe, veral as hulle iets vashou sal hulle op hulle agterpote loop.




Soos koalas kry hulle amper al hulle water van hulle kos af en is dit nie gewoonlik nodig dat hulle water drink nie. Hulle eet meestal blare, lote en stingels, wat beteken dat hulle herbivore is. Af en toe sal hulle ook vrugte, bessies en neute eet, maar hulle eet nie piesangs nie, want dit groei nie natuurlik in hulle habitat nie.
Wyfies bereik volwassenheid tussen 10-12 jaar en mannetjies tussen 11-13 jaar. Die wyfie is dragtig vir 8 ½ maande. ‘n Baba gorilla sal vir 5 maande permanent by sy ma bly, voordat hy stadig aan verder van haar af weg beweeg en word gespeen tussen 3 en 5 jaar.
Gorilla’s wat in aanhouding is kan ‘n vorm van gebare taal aanleer. Koko was ‘n wyfie in aanhouding en het tot 2000 Engelse woorde herken en meer as ‘n 1000 gorilla gebare taal woorde gebruik, voordat sy in 2018 oorlede is. Gedurende haar leeftyd het Koko ‘n paar katte aangeneem en vertroetel.
Leer meer oor Gorillas met Wikipedia en A-Z Animals
Leer meer oor Koko die gorilla en kyk na haar Youtube kanaal