Ons tuisskool al vir baie lank. Ons is nog nie dwarsdeur deur die hele skoolloopbaan nie, maar is reeds met al ons kinders deur die eerste jare van die “formele” skoolera in hulle lewens. Ons het al vir vele jare getuisskool voor die pandemie die wêreld omgekeer het.
Soos enige ouers het ons baie gewik en geweeg voor ons ons kinders se skool opleiding as ons eie verantwoordelikheid en ons s’n alleenlik aanvaar het. Toe my oudste gebore was het ek nie eers geweet van homeschooling nie. Ek het groot geword in ‘n tradisionel huis met tradisionele waardes as dit by skool gekom het: jy gaan kleuterskool toe, dan laerskool, dan hoërskool en dan universiteit, jy kry ‘n werk en dan eers begin jy dink aan trou en kinders kry.
Ek het eers gedink: my werk is om my kinders groot te maak sodat hulle in die wêreld kan funksioneer, terwyl geleerdheid die skool se werk is. Maar hoe meer ek van kinders (en die doel van skool) geleer het, hoe meer het ek agtergekom, dat om ‘n kind groot te maak soveel meer insluit as wat ek in die boksie wou pas.
Almal het skielik, toe sy nog so klein was, my begin vertel ons moet registreer by ‘n skool, anders gaan sy nie plek kry nie. Dit het vir my brein net glad nie sin gemaak nie.
THE PRESSURE WAS ON! En ek het nie daarvan gehou nie.
Dit was seker die eerste keer dat dinge vir my so ‘n bietjie skeef met die hele pyplyn begin voel het. Dit het so ‘n bietjie soos ‘n “wors stop geleentheid” gevoel, met geen sê nie.
Gelukkig voor ons by die “naamlyste” en “op die lys kom” deel uitgekom het, het ons getrek na ‘n kleiner plek waar die publieke skole nie só vol was nie. Sjoe, darem nog so ‘n paar jaar, of so het ek gedink… Voor sy twee was, is ons aangeraai deur ‘n kleuterskool onderwyseres, om by ‘n kleuterskool aan te sluit sodat sy “gewoond kon raak die skool idee”. Ek het langer uitgehou en toe sy 3 was haar eers ingeskryf.
Met haar in die kleuterskool 2 keer ‘n week, kon ek meer tyd spandeer saam met nommer 2. Maar die feit dat sy my nie kon vertel wat sy geleer het of ervaar het die 2 ure by die skool nie, het my ontstel. Hoe moes ek haar gereed maak vir die wêreld, as ek nie geweet het wat sy daagliks leer en ervaar nie? Ek het gedink ek oorreageer en ons het die jaar daar klaar gemaak. Die volgende jaar het ons haar ingeskryf vir graad RR by ‘n privaat skool in die dorp.
Teen die tyd het ons reeds gehoor van tuisskool en dit vaag weg begin oorweeg as ‘n opsie vir ons. Die groot struikel blok was dat ek nie geweet het wat kinders akademies behoort te leer nie. Ek was nie ‘n juffrou nie, hoe moet ek hulle leer van algebra? En chemie was my swakste vak op skool…
As deel van die toelating by die privaat skool moes ons ‘n onderhoud met die hoof hê. Dit was hierdie onderhoud wat ons op die ouend na die besluit vir tuisskool gelei het. Die hoof was vriendelik en ons het van die skool en waardes gehou. Erens in die onderhoud het ons genoem dat ons tuisskool oorweeg, maar dalk eers later, en die hoof het so terloops gesê: “Dis beter om in die jonger jare te tuisskool terwyl die werk nog maklik is.”
Oor die volgende jaar het hierdie opmerking my bygebly en ek het ernstig begin oplees oor tuisskool. Ek het daaroor begin bid en dit oorweeg as die pad voorentoe vir ons.
Alles wat ek gelees het, het aangedui dat dit ‘n leefwyse meer as ‘n skool opsie is – ek het van die idee gehou.
Dit pas by wie ons is en ons waardes. Dit weerspieël my visie en filosofie oor kinders groot maak. Dit bied ‘n unieke omgewing vir my kinders om in te ontwikkel en te groei, asook ‘n toekoms met ‘n vaste fondasie om op te bou.
Die gevolg was dat ons die volgende jaar graad R by die huis begin het. Die later grade en hoërskool sal ons aanvat wanneer ons daarkom, maar op daardie stadium kon ek haar leer van vorms en syfers en klanke, die alfabet en plus en minus sommetjies. Dit was nie perfek nie, en baie pesoonlike ideale van hoe en wat dit behoort te wees, is nie bereik nie.
Maar ‘n klomp jare met die pad af en ons was nog nie eendag spyt oor ons besluit nie. My kinders leer elke dag, of ons die dag as skool tel of nie. En ek leer saam met hulle!